On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Meer dae van sonskyn voorspel, positiewe nuus vir vloed-geaffekteerde boere

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 24 Jan 2022

Meer dae van sonskyn voorspel, positiewe nuus vir vloed-geaffekteerde boere | News Article
FOTO: PHOTOXPRESS

Boere wat deur die voortdurende swaar reënval geaffekteer is, kan uitsien na ten minste twee weke se sonskyn en redelike warm weerstoestande.

Dit is volgens Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige, wat egter sê enkele buie kan vroeg in Februarie verwag word. 

Sien onderstaande PODCAST

Daar word verwag dat die reën wat in Februarie gaan voorkom nie swaar reën gaan wees nie.

Wat temperature betref, sê Van den Berg behoort die temperature in die sentrale gedeeltes rondom 30 grade te wees. Daarmee saam blyk dit ook nie dat daar sterk winde gaan voorkom nie.


La Niña-verskynsel en die gevolge

‘n La Niña-verskynsel kom ongeveer elke vier tot vyf jaar voor, maar dis nie gewoonlik altyd sterk genoeg om die tipe swaar reën wat ons die afgelope tyd ervaar het, te veroorsaak nie. Van den Berg verduidelik dat kommer ontstaan wanneer daar twee La Niña-seisoene agtermekaar voorkom.

OFM-nuus het vroeër berig dat boere in provinsies soos die Vrystaat groot skade weens hierdie verskynsel gely het. Voortdurende swaar reën het verspuip- en haelskade aan gewasse veroorsaak en volgens Janine Ryan, besturende redakteur van Farmer's Weekly, word daar beraam dat tussen 10 000 en 15 000 hektaar landbougrond in die Vrystaat onder water is. Ryan sê geaffekteerde boere gaan na verwagting sowat R14 000 per hektaar verloor.

Aanhoudende swaar reën het boere ook verhinder om toegang tot hul lande te kry en hulle sal ook nie weer kan plant nie aangesien die plantseisoen verby is. Boere sal moet wag vir die volgende plantseisoen.

Die Nasionale Rampbestuursentrum het intussen die vernietigende reënval en oorstromings in groot dele van die land as ‘n nasionale ramp geklassifiseer. Agri SA sê in ‘n verklaring hy verwelkom hierdie klassifikasie en dat dit nou voorsiening maak vir die nasionale uitvoerende gesag om die ramp ingevolge bestaande wetgewing en gebeurlikheidsreëlings te koördineer en te bestuur. 

“Impakstudies word reeds onderneem deur provinsiale rampbestuursentrums en die department van landbou om die skade te bepaal wat produsente gely het. Dié studies is noodsaaklik ten einde ’n nasionale ramp te kan verklaar.

Fondse sal nou binne die regeringsfeer geherprioritiseer word om die ramp aan te spreek, insluitend die dringende herstel van padinfrastruktuur.”


El Niño-verskynsel

Die El Niño-verskynsel kom voor wanneer die see-temperature in die Stille Oseaan warmer as normaal word. Van den Berg sê egter dat hierdie temperature die laaste twee jaar koeler as normaal was. Hierdie verskynsel het ‘n teenoorgestelde effek as die La Niña-verskynsel omdat dit droeër toestande tot gevolg het.

Boere word gemaan dat die land wel weer droër toestande gaan ervaar wat waarskynlik in 2023 sal begin, sê Van den Berg. “So, dalk hierdie komende seisoen of die seisoen daarna, maar ons gaan beslis weer El Niño-toestande ook ervaar [ná die baie reën].”



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.