Agriculture
Landbounuus-podcast: Vrou in aanhouding ná beweerde plaasmoord─── ELSABÉ RICHARD 15:48 Mon, 14 Feb 2022
'n 46-jarige vrou word vir ondervraging aangehou nadat 'n 87-jarige man op sy plot net buite Jan Kempdorp in die Noord-Kaap dood aangetref is.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, Sergio Kock, ondersoek die speurders van die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad 'n beweerde plaasmoord. Hy sê die oorledene, wat alleen op die plot woon, is Saterdagaand deur 'n familievriend gekry, wat die polisie ontbied het. Kock vra enigiemand met inligting om die polisie te kontak. Die ondersoek duur voort.
'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewendehawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewendehawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Derksen sê speenkalwers, onder 200kg, het verlede week teen R44,79 per kg verkoop, terwyl speenkalwers tussen 200kg en 250kg, teen R42,98, en speenkalwers oor 250kg, teen R41,50 per kg verkoop het. Vir meer inligting besoek vleisprys.co.za.
EN
Die Landbousakekamer, oftewel Agbiz, sê hy is gereed om saam met ander belanghebbendes in die landboubedryf te werk om inklusiewe groei en werkskepping te verseker. Dit volg nadat President Cyril Ramaphosa se staatsrede, waartydens hy aangekondig het dat 'n bemagtigende omgewing vir sakeondernemings van kritieke belang is om beleggings te lok. Dit, in 'n poging om werkloosheid en lae ekonomiese groei in Suid-Afrika aan te spreek. Volgens Agbiz se voorsitter, Francois Strydom, is die president se aankondiging oor onder meer energiesekuriteit en die uitbreiding van hawe-infrastruktuur, 'n bewys dat sake-ondernemings se kommer op die hoogste vlak gehoor word. Hy sê die landboubesigheidsektor is gereed én gewillig om saam met die regering te werk om skouer aan die wiel te sit om hierdie inisiatiewe te realiseer.
OFM-nuus
