Agriculture
Landbounuus-podcast: R1,2 miljard vir Landbou Departement in Noordwes begroot─── ELSABÉ RICHARD 13:48 Tue, 08 Mar 2022
Die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Noordwes sal R1,2 miljard in die 2022/23-boekjaar ontvang.
Dit sal na verwagting groei tot R1,3 miljard in die laaste jaar van die Mediumtermyn-begrotingsraamwerk. Dit is volgens die LUR vir finansies in Noordwes, Motlalepula Rosho, toe sy Dinsdag haar begrotingtoespraak vir die 2022/23-boekjaar gelewer het. Sy het verder gesê dat die bedrag 'n toekenning van R224 miljoen vir die Ilima/Letsema-projekte insluit, sowel as R185 miljoen in 2022/23 vir die Omvattende Landbou-ondersteuningsprojek. Verder, om volhoubare ontwikkeling en bestuur van landbouhulpbronne te verseker deur die verskaffing van landbouondersteuningsdienste aan boere - insluitend Kgora - is 'n bedrag van R216 miljoen toegeken.
Alhoewel hoë kommoditeitspryse in landbou weens die onrus in die Oekraïne goeie nuus vir baie produsente is, raak kunsmis basies onbekombaar en onbekostigbaar duur. Hierdie uitlating deur Dr. Frikkie Maré, 'n senior landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat, volg soos wat hy goeie reën en goeie landboutoestande in die begin van die seisoen opweeg teenoor negatiewe faktore soos die sprinkaanuitbraak in onder meer die Noord-Kaap, en die oorlog in die Oekraïne. Maré sê brandstof- en kunsmispryse skiet skielik die hoogte in, en hy raai landbouers aan om eerder te probeer oorleef op die korttermyn en negatiewe faktore die hoof te bied.
EN
Die Noord-Kaapse Departement van Landbou sê hulle verwag dat die nasionale Departement van Landbou 'n helikopter sal verskaf wat sprinkaanbestrydingspanne op die grond kan bystaan. Die provinsiale departement se woordvoerder, Zandisile Luphahla, sê gebiede wat steeds deur uitbrekings geraak word, sluit in Upington, Britstown en De Aar. Hy voeg ook by dat die reën spanne se vermoë om sprinkane te bestry belemmer, en versoek die publiek om swerms by onder meer plaaslike landbou-organisasies aan te meld.
OFM-nuus
