Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Thu, 10 Mar 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mark het Maandag sywaarts verhandel. Verhandeling het gemeng gesluit met marginale winste en verliese aangespoor deur ‘n rondte tegniese aankope. Mieliepryse het omtrent 10% gestyg vandat Rusland die Oekraïne ingeval het
Oekraïne en Rusland is die 4de en 6de grootste mielie-uitvoerders ter wêreld en is verantwoordelik vir amper 20% van internasionale graanuitvoere.
Kenners voorspel dat Amerikaanse mielievoorraad-verwagtinge sal afneem in Donderdag se WASDE-verslag. Brasilië en Argentinië is die 2de en 3de grootste mielie-uitvoerders en het ‘n droogte ervaar hierdie groeiseisoen.
Plaaslik: Die plaaslike mieliemark-pryse het maar sywaarts beweeg met marginale winste en verliese.
Die witmieliekontrak het vir Maart R2/ton swakker verhandel vir die dag om teen R4 027/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Julie het R7/ton swakker verhandel teen R4 003/ton.
Die geelmieliekontrak vir Maart 2022 het R19/ton sterker verhandel teen R4 196/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Julie R18/ton sterker verhandel om teen R4 199/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het koring se kollig gesteel in die vorige verhandelingsessie. Die mark het winste van 2% getoon ná ‘n rondte van tegniese aankope.
Die beweging in die sojaboonmark kan steeds toegeskryf word aan Suid-Amerika en die vordering van hul oes. China bly steeds ‘n groot faktor in die sojaboonmark om hul aanvraag vir varkvoer te bevredig.
Amerikaanse sojaboonvoorraad behoort af te neem weens hoë aanvraag plaaslik en internasionaal. Sojaboonuitvoer afkomstig van Amerika het met 26% gestyg in vergelyking met die vorige jaar.
Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het relatief goed verhandel en het winste net onder 1% getoon.
Die sojaboon Maart ’22-kontrak het R74/ton sterker verhandel teen R9 420/ton. Die sojaboon Mei ’22-kontrak het R77/ton sterker verhandel teen R9 379/ton. Die sojaboon Julie ’22-kontrak het teen R9 470/ton, R80/ton sterker, verhandel.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark het gestruikel in die vorige sessie weens ‘n rondte tegniese verkope en winsneming.
Die spot maand het ‘n massiewe 10% verloor en al die kontakte saam het gemiddeld 5% verloor in die vorige verhandelingsessie. Die Oekraïne se koringproduksie is 32% hoër as ‘n jaar tevore, maar daar is nie ‘n manier om daardie koring uit te voer nie.
Koringinvoer vanaf Indië begin stewig toeneem weens voorraad-ontwrigtings in die Swartsee-area. Indië is die enigste produsent wat konstant koring kan lewer.
Plaaslik: Die plaaslike mark het in die voetspore van die Amerikaanse mark gevolg met amper al die gelyste kontrakte wat in die rooi gesluit het.
Die koring Maart '22-kontrak het teen R6 950/ton verhandel, R109/ton laer. Die koring Mei ’22-kontrak het teen R6 920/ton verhandel, R139/ton laer.
OFM-nuus
