On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Mieliediefstal kos boere duisende per maand

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 14 Mar 2022

Mieliediefstal kos boere duisende per maand | News Article

Boere in die Vrystaat betaal tot R100 000 per maand vir sekuriteitswagte om hul mielieplantasies op te pas en te probeer beskerm teen mieliediefstal.

Dit is volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL).

Sien onderstaande PODCAST

Buys sê verder dat boerderygemeenskappe in Allanridge, Bothaville, Bultfontein, Koppies, Odendaalsrus, Vierfontein, Virginia en Welkom die slagoffers van hierdie misdaad was.

Daar is ook reeds inhegtenisnames in Allanridge, Bultfontein en Virginia gemaak. Buys sê in sommige gevalle is daar ook kinders betrokke.

Mieliediefstal is ‘n seisoenale misdaad en die groot bekommernis, volgens Buys, is die groot hoeveelheid persone wat betrokke is by dié misdaad. Sy is ook bekommerd dat die intensiteit en die omvang van die misdaad toeneem. 

Sy sê boere rapporteer dat daar soms tot 20 persone, wat gewapen is, by landerye afgelaai word. Sommige boere het soveel as 30 sekuriteitswagte aangestel om hul landerye teen hierdie mieliediewe te beskerm.

Die addisionele veiligheidsuitgawes kom te midde van hoë brandstof- en kunsmispryse en kan voedselsekerheid in die provinsie negatief beïnvloed, meen Buys.

Intussen het Jakkals le Roux, die voorsitter van VL, bygevoeg dat die gesteelde mielies gewoonlik in woonbuurte en dorpsgemeenskappe deur kriminele verkoop word, wat in groot groepe werk.

“Inligting dui daarop dat tot 20 persone, wat gewapen is met pangas en messe, op mielieplantasies toesak en mielies vanaf landerye stroop. Die mielies word in sakke geplaas vir bakkies om later na afsetgebiede te vervoer,” verduidelik Le Roux.

In ‘n poging om mieliediefstal hok te slaan het VL ook ‘n dringende versoek aan die polisie gerig om hierdie tipe diefstal in die provinsie met die nodige erns te beveg.

Die organisasie versoek ook dat boere so vinnig as moontlik mieliediefstal by die plaaslike polisie moet aanmeld sodat daar teen verdagtes opgetree kan word.



OFM-nuus

  

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.