Agriculture
Kry jou vellies en kom woon OVK se Boervroudag by─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 16 Mar 2022

OVK bied op 2 April ‘n Boervroudag in Hondeblaf in die Petrusville-distrik in die Noord-Kaap aan.
Volgens Christel Basson, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van OVK, kan boervroue uitsien na ‘n oggend van bemoediging, gevul met lag.
Sien onderstaande PODCAST
Basson benadruk dat die Boervroudag nie net vir boervroue is nie, maar ook vir enige persoon in die platteland wat naby is.
OVK het Hondeblaf gekies juis omdat die boere en gemeenskappe wat in hierdie deel van die Noord-Kaap geleë is onder erge droogtetoestande gebuk moes gaan en sal kan baatvind by hierdie inisiatief. Sommige dele van die Noord-Kaap ervaar al vir agt jaar droogte.
Lees ook: NK-boere verheug oor reën maar inkomstestrome moet nog herstel
Dié denim en vellies geleentheid poog om vroue emosioneel te ondersteun en op te bou. Vroue kan uitsien na vele pret en stalletjies. Die aktrise Ilne Fourie, die gaskunstenaar Mario Lategan en spreker Igno van Niekerk gaan almal daar wees.
OVK beplan nóg ander twee sulke geleenthede op 10 Junie by Marlow Landbouskool in Cradock en weer in Bloemfontein op 15 September.
Lees ook: Eerste OVK-Vroue Boeredag was ‘n groot sukses
OFM-nuus het verlede jaar berig dat die idee vir ‘n vroue boeredag gebore is toe een dame genoem het dat daar ‘n behoefte aan ‘n boeredag is wat uitsluitlik toegewy is aan vroueboere.
En so was OVK se eerste Vroue Skaapboerdery Boeredag op die been gebring om sodoende die kollig op vroue in dié bedryf te fokus.
Aanbiedings oor die evaluering van wol, voedsel sowel as reproduksie by skape, was slegs enkele van die onderwerpe wat met die vroue gedeel is.
Basson sê gewone boeredae is gewoonlik ‘n mans-georiënteerde dag en dat vroue hierdie dae ook bywoon. Sy sê wat hulle gevind het, is dat vroue nie altyd die vrymoedigheid het om ‘n vraag by sulke dae te vra nie. Nou, deur OVK se vroue boeredae, skep die organisasie vir vroue die platform om vrae te kan vra sonder om onseker te voel.
Vir meer inligting kontak Alice Of Nadia by 051 923 4500 of stuur ‘n epos na klantediens@ovk.co.za. Kaartjies is beskikbaar vir R250 per persoon.
OFM-nuus