Agriculture
Damvlaksyfers in Sentraal Suid-Afrika lyk goed─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 23 Mar 2022
Ná die afgelope tyd se reën wat in dele van Suid-Afrika voorgekom het, is damme redelik vol.
Sien onderstaande PODCAST
Rossouw Botes, DA-raadslid in die Manaung Metro en die party se woordvoerder oor Watersake, sê daar word op ‘n daaglike basis sowat 20 damme in die binneland gemonitor. Veertien van hierdie damme is reeds 100% en meer vol, terwyl die res 90% en meer vol is.
“Met dit saamgevat sit ons regtig met 'n mooi hoeveelheid water in die binneland wat ons net hoop reg gebruik sal word, want ek dink dis ‘n kosbare bron,” deel Botes.
Lees ook: Voortdurende reënval veroorsaak nie net dieresiektes nie, maar ook plantsiektes
Hier is van die damvlaksyfers:
- Gariepdam: 105%
- Vanderkloofdam: 106%
- Spitskopdam: 108%
- Erfenisdam: 100%
- Tierpoortdam 104%
- Sterkfonteindam: 102%
- Bloemhofdam: 104%
- Douglasdam: Is net onder 100% vol
- Egmontdam: 100,2%
- Armeniadam: 101%
- Katsedam: 99,6%
Botes waarsku egter dat boere wie se besproeiingstoerusting, vee en ander items langs rivierwalle is, moet versigtig wees aangesien oorvol damme wat oorvloei skade kan veroorsaak.
Lees ook: 2022-vooruitsigte: Goeie reën is gelyk aan goeie oeste
Dieresiektes weens reën
OFM-nuus het voorheen berig dat alhoewel goeie reën damme vul, wat verseker dat gemeenskappe voldoende water het, moet boere tog op die uitkyk wees vir dieresiektes wat deur insekte, wat gewoonlik uitbroei weens nat toestande, oorgedra word.
Een van hierdie dieresiektes, wat selfs blindheid in mense kan veroorsaak, is slenkdalkoors.
Slenkdalkoors is ‘n virussiekte wat oorgedra word deur veral die Aedes-muskiet, gewoonlik ná reënval.
Entstowwe beskikbaar om die verspreiding van die virus te keer sluit in die geïnaktiveerde entstof, ook bekend as die dooie entstof. Dr. Faffa Malan, ‘n bekende veearts, verduidelik dat hierdie entstof gewoonlik vir dragtige diere gegee word, maar dat dit ook vir nie-dragtige diere gegee word.
Die ander entstof-opsie staan bekend as die lewende entstof, of die Smithburn-entstof.
Maar Suid-Afrika het die afgelope maande ‘n tekort aan entstowwe vir sekere dieresiektes ervaar, omdat die Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) sukkel om entstowwe vir dieresiektes soos die Afrika Perdesiekte te produseer.
Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het saam met verskeie ander veebedryfrolspelers 'n vergadering gehad om hierdie tekort te bespreek. Sy sê daar is besluit dat een van die korttermynoplossings wat geïmplementeer moet word, die noodregistrasie van diere-entstowwe is, asook OBP wat intellektuele eiendom met private ondernemings deel in 'n poging om die nodige entstowwe te ontwikkel.
