Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Fri, 01 Apr 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het met 1,6% opwaarts verhandel.
Vroeë mielie-aanplantings in die VSA is in sommige state gestaak weens reën en koeler temperature.
Mielie-aanplantings in Texas is egter byna 51% voltooi, wat 5% hoër is as die vyf-jaar gemiddelde.
Die plaaslike Safex-mieliekontrakte het skerp afwaarts verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R38/ton (-0,96%) gedaal om teen R3 914/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R52/ton (-1,26%) laer verhandel en teen R4 065/ton gesluit.
Die weeklikse SAGIS-produsenteleweringsverslag het aangedui dat vir die week geëindig 25 Maart, 'n totaal van 7 350 ton witmielies gelewer is. Die totale witmielies wat tot verlede week kommersieel ontvang is, het 8 023 056 ton beloop. Vir geelmielies is altesaam 14 872 ton gelewer. Die totale geelmielies wat tot verlede week kommersieel ontvang is, het 6 907 450 ton beloop. Die totale mielies gelewer vir die 2021/22 bemarkingseisoen is 14 930 506 ton.
Sojaboon:
Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste handelsmaand het opwaarts verhandel met 'n 1,3% verhoging.
Die voorlopige ramings wat deur die Ministerie van Landboubeleid van Oekraïne vrygestel is, het aangedui dat die aangeplante oppervlakte onder oliesade in 2022 met meer as 20% sal afneem. Brasiliaanse uitvoer vir 2022 sal na raming 99 100 000 ton bereik, wat 5,6% laer is as die vorige jaar se 105 030 000 ton.
Die binnelandse sojaboonkontrakte het effens opwaarts verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Mei 2022 met R33/ton (+ 0,39%) hoër verhandel om uiteindelik te sluit op R8 565/ton.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het opwaarts verhandel met 'n 1,3%-styging.
Russiese graanuitvoerders het die lande se sentrale banke gevra om 'n metode van betaling in die nasionale geldeenheid te ontwikkel. Russiese koringuitvoer vir die tydperk van 10 - 30 Maart het 1 miljoen ton bereik, wat 'n stadige maar bestendige toename in die uitvoertempo toon.
Die binnelandse koringkontrakte het gemeng verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Mei 2022 met R73/ton (- 1,09%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R6 600/ton.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeitsmark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
