Agriculture
Boere moet hulself verseker teen skade wat hulle diere kan aanrig─── 05:00 Tue, 19 Apr 2022
Lewendehawe-eienaars word aangeraai om hulself te verseker teen skade wat hulle diere kan aanrig.
Sien onderstaande PODCAST
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) berig in sy April 2022 nuusbrief dat lewendehawe-eienaars seker moet maak dat hulle die nodige versekering in plek het om verliese te beperk wanneer ‘n lid van die publiek skade ly wanneer diere in openbare gebiede ronddwaal, aangesien daar ‘n risiko van aanspreeklikheid op die eienaars van lewendehawe rus.
Die organisasie sê dit was duidelik in die hofsaak van De Pontus versus Kegge, waar die hof moes bepaal of ‘n lewendehawe-eienaar ‘n plig teenoor ‘n motoris het om redelike stappe te neem om diere onder sy/haar beheer te verhoed om in ‘n openbare pad rond te dwaal en of die lewendehawe-eienaar aanspreeklik gehou kan word vir die skade wat opgedoen kan word wanneer die eienaar nalaat om sy verpligting na te kom.
Die hofsaak het gevolg ná die betrokke klaer in die saak in ‘n perd in die Uitenhage-distrik vasgery het wat aan die verweerder behoort het.
Die hof het bevind die feit dat die verweerder versuim het om te verseker dat die hek van die kraal waar die perd aangehou is, is met ‘n slot gesluit, is in wese ‘n versuiming van sy plig as eienaar teenoor die klaer en gevolglik is sy nalatigheid die oorsaak van die botsing en die beserings wat die klaer opgedoen het.
Dié hofbevinding behoort as ‘n waarskuwing aan lewendehawe-eienaars te dien, wat moet toesien dat hulle diere nie in openbare plekke ronddwaal waar hulle skade aan lede van die publiek mag aanrig nie.
Die hof het die beginsel onderstreep dat lewendehawe-eienaars ‘n verpligting teenoor die publiek het en bykomende voorkomende maatreëls in plek behoort te plaas om te verseker hul diere word in veilige spasies aangehou indien dit maklik en goedkoop in plek geplaas kan word.
