Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Mon, 25 Apr 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mark het ‘n ander rigting ingeslaan as die voorlaaste sessie met pryse wat met 2% gedaal het. Prysdalings kan toegeskryf word aan handelaars wat aan ‘n rondte tegniese verkope deelgeneem het met pryse wat steeds na aan rekordpryse verhandel.
Swak uitvoersyfers wat deur die USDA vrygestel is, het verder druk op pryse geplaas weens handelaars wat dit as ‘n gulde geleentheid gesien het om wins te neem. Mielie-uitvoere is 27% laer as die vorige week.
Plaaslik: Die plaaslike mieliemark het goed presteer ten spyte van ‘n swakker Amerikaanse mark. Die verswakkende wisselkoers en stadige stroopproses het pryse moontlik ondersteun. Die verskil tussen wit- en geelmielies is tans R180.
Vir die week geëindig op 15 April het produsentelewerings met 69% gedaal vir witmielies en 54% vir geelmielies weens nat toestande wat die stroopproses vertraag.
Die witmieliekontrak het vir April R30/ton sterker verhandel vir die dag om teen R4 321/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Julie het R39/ton sterker verhandel teen R4 350/ton.
Die geelmieliekontrak vir April 2022 het R27/ton hoër verhandel teen R4 485/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Julie R34/ton sterker verhandel om teen R4 505/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het onder druk gekom weens oorspoel-swakheid vanaf dalende mielie- en sojaboonpryse, maar het kop bo water gehou weens die hulp van goeie uitvoersyfers deur die USDA vrygestel. Pryse het met 0,15% hoër verhandel.
Sojaboon-uitvoere was 27% hoër as die vorige vier-week gemiddeld met China, Indonesië, Mexiko en Nederland as die voorste invoerders. Argentinië het beter-as-verwagte sojaboonopbrengste gerapporteer ná ‘n seisoen wat deur pessimisme gekenmerk is. Die Argentynse oes is tans 27% voltooi.
Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het min wisselvalligheid getoon in Vrydag se verhandelingsessie. Pryse het tussen 0,1% en 0,6% gestyg.
Die sojaboon April ’22-kontrak het R11/ton sterker verhandel teen R9 470/ton. Die sojaboon Mei ’22-kontrak het R38/ton sterker verhandel teen R9 597/ton. Die sojaboon Julie ’22-kontrak het teen R9 684/ton, R57/ton sterker, verhandel.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark het baie swak presteer in die vorige verhandelingsessie ná ‘n rondte tegniese verkope. Koringpryse was ondersteun deur sterk uitvoer, maar handelaars het die naby-aan-rekord pryse as verskoning gebruik om wins te neem.
Die internasionale graanraad het koringproduksie vooruitsigte effens verlaag, maar verwag dat produksieverliese deur die Oekraïne grotendeels deur hoër produksie in Rusland en Kanada verreken sal word.
Plaaslik: Die plaaslike koringmark het goed presteer ondanks ‘n swak Amerikaanse mark. Die pryse is ondersteun deur ‘n verswakkende wisselkoers. Produsente lewerings vir die week geëindig op 15 April het op 4 191 ton te staan gekom en die gesamentlike totaal staan tans op 2 190 274 ton.
Die koring April '22-kontrak het teen R7 277/ton verhandel, R65/ton hoër. Die koring Mei ’22-kontrak het teen R7 277/ton verhandel, R65/ton sterker.
OFM-nuus
