Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Tue, 31 May 2022
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die CBOT-mieliekontrakprys vir die naaste handelsmaand het Maandagoggend met 1,6% gestyg.
Wêreldwye mielievoorraad bly 'n bekommernis. Droër weer in die VSA het hul plantvordering vir die 2022/23-seisoen aangehelp. As ons vorentoe kyk, sal mededingendheid in vergelyking met ander voergrane sowel as bio-etanolmarges, vraagkykpunte wees.
Oekraïense landboubesighede raam dat die lande se mielieproduksie vir die 2022/23-seisoen met 39% tot 25 706 157 ton sal daal. Wat globale produksie betref, is die Oekraïne en Rusland verantwoordelik vir 4% van die globale mielievoorraad en 14% van die globale mielie-uitvoer.
Die plaaslike SAFEX-mieliekontrakte het Maandag opwaarts verhandel vir beide wit- en geelmieliekontrakte. Die witmieliemark het, vir lewering in Julie 2022, R89/ton (+ 1,94%) gestyg om teen R4 683/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2022, R68/ton (+ 1,44%) hoër te verhandel en teen R4 768/ton te sluit.
Sojaboon:
Die CBOT-sojaboonkontrakprys vir die naaste verhandeling het Maandagoggend met 0,3% gestyg.
Die sojaboonmark word tans ondersteun deur 'n sterk vraag na ou-oes Amerikaanse sojabone tesame met strawwe Amerikaanse eindvoorraad. Op die langer termyn word 'n aansienlike oes egter vir beide Suid-Amerika en die VSA verwag - afhangende van weer en produksietoestande.
Die binnelandse sojaboonkontrakte het Maandag weer met effens afwaartse tendense verhandel. Die plaaslike sojaboonmark het vir lewering in Julie 2022 met R80/ton (- 0,85%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R9 335/ton. Plaaslike produsente is tans aan die gang met die oesproses, met 'n paar vertragings as gevolg van oormatige reën.
Koring:
Die CBOT-koringkontrakprys vir die naaste handelsmaand het Maandagoggend 1,2% hoër verhandel.
Fundamenteel bly steun vir koringkontrakte as gevolg van streng globale vraag- en aanbodvooruitsigte. Op kort termyn bly pryse wisselvallig in reaksie op enige nuwe nuus oor die voortslepende Rusland/Oekraïne-konflik. ’n Sleutelkykpunt vir globale koringvoorrade is die vermoë van die Oekraïne om in Julie/Augustus te oes en dan ook die Oekraïne se vermoë om graan na die wêreldmark uit te voer. Op langer termyn bly weerstoestande 'n uitkykpunt vir die VSA en die Europese Unie.
Die binnelandse koringkontrakte het Maandag gemeng verhandel. Die plaaslike koringmark het vir lewering in Julie 2022 met R7/ton (- 0,08%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R8 157/ton. Die Desember 2022 koring kontrak het met R27/ton (- 0,36%) laer verhandel om uiteindelik te sluit op R7 559/ton. Plaaslike produsente is tans aan die gang met die plantproses. Die Swartland-streek ervaar droë planttoestande met broodnodige reën wat die naweek geval het. Die Suid-Kaapstreek het ver gevorder met die aanplantingsvordering.
Vir meer inligting oor die huidige kommoditeits mark, besoek gerus Graan SA se webtuiste.
