Agriculture
Landbounuus-podcast: Fokus weer op brandstof se beskostigbaarheid─── ELSABÉ RICHARD 14:05 Thu, 30 Jun 2022
Die voorspelling dat petrol- en dieselpryse weereens volgende maand kan styg, plaas weer die fokus op die bekostigbaarheid van brandstof.
Daarmee saam sê Nicol Jansen, die president van Agri Noord-Kaap, gerugte van brandstoftekorte doen ook die rondte, wat landbou negatief kan raak. Jansen voeg egter by dat dit nie net die prys van brandstof is wat boere hoofbrekens gee nie, maar ook die prys van graan op Safex.
Op 3 Augustus vanjaar gaan die Rooivleisprodusente-organisasie hulle konferensie virtueel asook in lewende lywe in Pretoria hou. James Faber van dié organisasie deel dat verskeie sprekers gaan praat oor onder meer die belangrikheid van biosekuriteit en die landbou-ekonomie. Hy noem dat die rooivleisbedryf die afgelope jaar talle uitdagings soos droogte, vloede en die uitbraak van bek-en-klouseer in die gesig gestaar het. Faber sê die konferensie word gehou om seker te maak dat rooivleisprodusente noodsaaklike inligting so vinnig as moontlik ontvang.
EN
'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewendehawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewendehawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Derksen sê speenkalwers, onder 200kg, het teen R49,75 per kg verkoop, terwyl speenkalwers tussen 200kg en 250kg, teen R36,89, en speenkalwers oor 250kg, teen R35,25 per kg verkoop het.
OFM-nuus
