On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agriculture

Organisasie identifiseer faktore vir ‘n lewensvatbare landboubedryf

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 11 Jul 2022

Organisasie identifiseer faktore vir ‘n lewensvatbare landboubedryf | News Article

Winsgewendheid, veiligheid en sekuriteit is van die faktore wat die landboubedryf se lewensvatbaarheid beïnvloed, en is ook op die lys van besprekingspunte by Vrystaat Landbou (VL) se jaarkongres.

Die organisasie se kongres vind op 3 en 4 Augustus plaas. 

Sien onderstaande PODCAST

VL se tema is vanjaar ‘Ongeag’.

“Binne die 'Ongeag'-raamwerk wil ons graag kyk na die probleme wat binne die landboubedryf ondervind word. Daar is baie eksterne faktore wat ‘n rol speel. Ons weet almal die nasionale omgewing skep vir ons wesenlike probleme in die landboubedryf – veral wat insetkostes behels.

LEES OOK: Vrystaat Landbou stel nuwe hoofbestuurder aan

“In daardie opsig wil die organisasie meer fokus op ‘n praktiese benadering in die sin dat ons graag met ons lede op grondvlak skakel oor sekere aspekte, onder meer, die landbou-ontwikkeling en landelike ontwikkeling,” deel die Hoof Uitvoerende Beampte van VL, Gernie Botha.

Botha sê ander faktore, wat ook tydens die kongres bespreek sal word, sluit in:

  • Landelike/landbou-ontwikkeling;
  • Infrastruktuur;
  • Betrokkenheid van jongboere; en
  • Bemagtiging van landbouverenigings.

Daarmee saam voeg die organisasie se president, Francois Wilken, in ‘n verklaring by dat veranderde internasionale en plaaslike omstandighede die landbougemeenskap met nuwe uitdagings konfronteer.

LEES OOK: Vrystaat Landbou weeg in op onveilige paaie in die Vrystaat

“Groter internasionale prysskommelinge, die de-globalisering en groeiende spanning tussen moondhede, het 'n direkte impak op die primêre bedrywe soos landbou. 

"Die plaaslike omstandighede maak die bedryfsomgewing ook nie makliker nie, en sien ons toenemend dat faktore wat buite landbou se direkte beheer is die bedryf se lewensvatbaarheid beïnvloed.

“Die landboubedryf bly die kern-rolspeler om ekonomiese groei, werkskepping en voedselsekerheid in die land te verseker. 

"Daarom is VL se strategiese doelwit om die landboubedryf in sy geheel te sien groei.”

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.