Agriculture
Landbounuus-podcast: Klag teen Noordwes Departement van Landbou ingedien─── ELSABÉ RICHARD 13:48 Thu, 21 Jul 2022
Saai, ’n netwerk vir familieboere, het 'n klagte by die Potchefstroom-polisiestasie teen die Noordwes Departement van Landbou, die Departement van Openbare Werke en die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbron-owerheid ingedien.
Die organisasie sê in 'n verklaring die klagte volg ná skokkende onthullings oor die toestand van nasionale monumente by die Potchefstroom Landboukollege. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, voeg by dat die voortdurende verval van geriewe, geboue, en administrasie al vir meer as ’n dekade ’n probleem is. OFM-nuus wag op kommentaar van die Noordwes Departement van Landbou.
Navorsers sê nuwe metodes van gewasverbouing moet gevind word in die lig van die klimaatsverandering wat in die wêreld ondervind word. Die SAUK berig ‘n woordvoerder van die Universiteit van Kaapstad se ontleders van klimaatstelsels, Peter Johnston, sê die nuwe geslag boere moet metodes vind om voedselstelsels te verseker te midde van ‘n veranderende klimaat. Hy het aan navorsers in Stellenbosch gesê meer navorsing is nodig oor onder meer hittebestande kultivars, bewaringslandbou en beter grondbewerkingsmetodes vir die nuwe omstandighede. Johnston sê landbouers sal van die ou manier van boer moet afsien.
EN
'n Bekende in die veebedryf, Chris Derksen, verskaf soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewendehawe. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewendehawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Derksen sê speenkalwers, onder 200kg, het teen R39,40 per kg verkoop, terwyl speenkalwers tussen 200kg en 250kg, teen R36,77 per kg, en speenkalwers oor 250kg, teen R34,72 per kg verkoop het.
OFM-nuus
