On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Teff-produksie aan die toeneem

───   13:45 Fri, 19 Aug 2022

Teff-produksie aan die toeneem | News Article
FOTO: Icon Foods International.

Daar is 'n verwagting dat teff-produksie sal toeneem namate die gewildheid daarvan oor die wêreld heen groei.

Dit, aangesien die voedingswaarde en glutenvrye waarde daarvan, teff baie geskik maak as 'n bestanddeel vir die toenemende vraag na gesondheidskos, sportvoeding en dieetvoedsel.

Sien onderstaande PODCAST

Volgens die verkoopsbestuurder van Icon Foods International, Natasha Roodt, is daar ‘n groot aanvraag na teff, daarom hoop hulle om 'n groot groei in teff-produksie in Suid-Afrika te sien. Teff is 'n stapelvoedsel vir Ethiopiërs en word in 'n glutenvrye meel gemaal om 'n tradisionele brood genaamd injera te maak, wat 'n plat pannekoekagtige gefermenteerde brood is.

Een van die hoofgebruike van teff is as 'n alternatiewe glutenvrye graan en meel in resepte. Daar word gesê dat hierdie fyngraanoes hoog is in voedingswaarde en gesondheidsvoordele omdat dit hoog is in vesel, yster, proteïene, kalsium en na bewering ryk is aan vitamiene en minerale. 

Afgesien van voedingswaarde, is teff goed vir gewigregulering en beenversterking. Dus is dit gewild onder gesondheidsbewuste verbruikers. Dit staan ook bekend as 'n supergraan en vorm deel van die volgende generasie superkosse, daarom is die produksie daarvan duurder as ander kommoditeitsgraansoorte soos mieliemeel.

Roodt het verder bygevoeg dat teff in drie kleure voorkom - bruin, wit en ivoor, elkeen met subtiele verskille in geurprofiel en smaak. Daar word egter gesê dat bruin en ivoorkleurige teff meer gewild is. Roodt het aan OFM-nuus gesê die direkteur van Icon Foods International, Nick Meyer, het 'n ander verskeidenheid teff, genaamd supreme-teff ontwikkel wat 'n beter bakgehalte het.

Navorsing, wat so ver terug as in 1993 gedoen is, toon dat teff onder 'n wye reeks omgewingstoestande gekweek kan word, soos op marginale gronde wat onder droogtetoestande gebuk gaan. Dit is volgens die navorsingsartikel, Teff: Food Crop for Humans and Animals, gedoen deur G.F. Stallknecht, Kenneth M. Gilbertson, en J.L. Eckhoff. Daar word berig dat teff in 'n relatief kort groeiseisoen 'n oes kan produseer en graan vir beide menslike verbruik en vir vee kan produseer. Volgens Roodt, as verbouingsprosedures gevolg word, kan teff-produksie hoogs winsgewend wees aangesien dit oesopbrengste vir ander gewasse verhoog.

“Alhoewel teff gehard is, kort dit steeds baie aandag. Jou landerye moet behoorlik voorberei word, jou onkruidbeheer moet behoorlik toegepas word en boere moet die regte saai- en stroptoerusting gebruik, soos 'n shelbourne-tafel/stroper of soortgelyk,” het Roodt bygevoeg.

Sy het verder bygevoeg dat teff nie te laag gestroop moet word nie aangesien boere die risiko loop om fyn klippies en sand met die gewas te meng, wat 'n groot impak in die eindproduk vir die voedselmark speel.

OFM-nuus/Bambatha Giko

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.