Agriculture
Rouwatertarief-konsultasies moet impak op voedsel in ag neem─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 25 Aug 2022
Die landbousektor is een van die grootste gebruikers van waterbronne in Suid-Afrika, en daar word deur Agri SA en sy lede aanvaar dat die sektor dus sy deel van die nasionale verbruik moet befonds.
Dit is egter ook noodsaaklik vir die land se voedselsekerheid, sowel as die sektor se indiensneming, dat die watertarief teen 'n koers bly wat die sektor finansieel volhoubaar hou, sê Janse Rabie, Agri SA se Regs- en Beleidsbestuur.
Sien onderstaande PODCAST
Rabie deel sy sentiment aangesien die organisasie vandeesweek aan rouwatertarief-konsultasies vir landbou deur die Departement van Water en Sanitasie deelneem.
Die konsultasies is daarop gemik om die koste van water vir die landbousektor vir die nuwe jaar te bepaal.
ALSO READ: Water tariff discussions in Northern Cape concerning
Rabie verduidelik dat die sektor nie nóg hoë tariewe kan bekostig nie, aangesien dit onder geweldige finansiële druk verkeer weens verhoogde brandstof- en kunsmispryse.
Rouwatertariewe verskil jaarliks van plek tot plek en verhogings wissel tussen 0% tot 15%.
Rabie sê Agri SA neem jaarliks aan hierdie konsultasies deel in ‘n poging om die land se voedselsekuriteit en die lewensbestaan van landbouers en plaaswerkers te beskerm.
ALSO READ: Tariffs in Mangaung Metro to increase
“In sekere gebiede is daar ‘n geweldige druk van kostes en ons kom uit ‘n post Covid-19 tydperk waar daar geweldige ontwrigting was in die waardeketting en in die vloei van kommoditeite.
"Die Rusland/Oekraïne-konflik is natuurlik ‘n groot en bepalende faktor wat 'n wesenlike impak het op die landbousektor," voeg Rabie by.
Rouwatertarief-konsultasies het reeds in Julie vanjaar in die Noord-Kaap begin.
OFM-nuus het voorheen berig dat volgens die department se woordvoerder, Sputnik Ratau, die prysbepaling van water gebaseer word op gebruikersbetaling, besoedelaar-betaling, ekologiese volhoubaarheid, gedifferensieerde heffings, aanspreeklikheid en bestuur.
Die Noord-Kaapse Direkteur vir Institusionele Vestiging in die Departement van Water en Sanitasie, Tenda Rasikhanya, het bygevoeg dat om water op 'n aanvaarbare vlak van versekering en gehalte te kan voorsien, kapitaalinvestering in infrastruktuur beskikbaar moet wees, asook vir bedrywighede, instandhouding wat met waterbehandeling, grootmaatwaterverspreiding en retikulasie binne menslike nedersettings gepaardgaan.
Die nasionale konsultasies vind op Vrydag 26 Augustus 2022 plaas.
