Agriculture
Landbounuus-podcast: Waarskuwing geld steeds vir veldbrande─── ELSABÉ RICHARD 13:48 Mon, 05 Sep 2022
Weerstoestande is gunstig vir die ontstaan en verspreiding van veldbrande in dele van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes.
Hierdie waarskuwing is deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik. Die weerdiens sê toestande is van só 'n aard dat die brandgevaarindeks bo 75 is. Onder hierdie toestande kan brande vinnig ontstaan en versprei. OFM-nuus het voorheen berig dat volgens Johann Breytenbach van die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging, is daar teen Augustus vanjaar reeds meer as 6 000 veldbrande in sentraal Suid-Afrika aangeteken.
Slegte weerpatrone, wat die afgelope twee jaar ervaar is, het veroorsaak dat die rosyntjiebedryf skade gelei het. Dit is volgens Ferdie Botha, die Hoof Uitvoerende Bestuurder van Raisins SA. Hy het tydens 'n simposium van die bedryf in Upington in die Noord-Kaap gepraat. Botha sê hy is optimisties dat die bedryf weer sal herstel.
EN
Daarmee saam sê die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen dat die erge wisseling in temperature ‘n negatiewe impak op sommige landbougewasse het. Volgens Jansen begin die vrugtebome bot en dan kom die koue weer, wat die bome laat twyfel waar die seisoen eintlik trek. Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige, het voorheen aan OFM-nuus gesê dat temperature in September na verwagting bo 25 °C gaan bereik. Hy het egter ook gesê produsente moet kennis neem dat alhoewel temperature gaan styg, toon vooruitsigte ook dat daar weer kouefronte in September én Oktober verwag kan word, wat tot ryp kan lei.
OFM-nuus
