Agriculture
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Wed, 05 Oct 2022
FOTO: dreamstime.com
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
- Die Amerikaanse mieliemark het vir 'n tweede agtereenvolgende sessie op 'n rondte tegniese aankope gestyg, aangesien handelaars voortgegaan het om op Vrydag se verrassende voorraaddata te fokus. Onsekerheid oor hierdie seisoen se produksiepotensiaal het pryse verder ondersteun.
- China is steeds die grootste mielie-invoerder uit die VSA. Volgens die Brasiliaanse regeringsdata wys mielie-uitvoer meer as dubbel die syfer wat in September 2021 aangemeld is.
- Plaaslik: Die plaaslike mieliemark het sy kop gesak vanaf Maandag met pryse wat tussen 0,7% en 1,65% gedaal het. Pryse is onder druk geplaas weens ‘n swakker Amerikaanse mark met ‘n versterkende wisselkoers wat pryse verder laat verswak het.
- Die witmieliekontrak het vir Oktober R70/ton swakker verhandel vir die dag om teen R4 829/ton te sluit. Witmielies vir lewering in Desember het R61/ton laer verhandel teen R4 923/ton.
- Die geelmieliekontrak vir Oktober 2022 het R78/ton swakker verhandel teen R4 755/ton. Die geelmieliekontrak het vir lewering in Desember teen R4 868/ton verhandel, R62/ton swakker.
Sojabone:
- Die Amerikaanse sojaboonmarkpryse het Maandag dubbelsyferstygings gesien ná 'n ronde tegniese aankope aangespoor deur droë voorspellings wat produksiepotensiaal verder kan beperk.
- Sojaboonuitvoerverkope was aan die hoë kant van handelsraaiskote met Duitsland as die nommer een invoerder. Brasiliaanse sojaboonuitvoerdata was 11% laer as 'n jaar gelede.
- Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het vir ‘n opeenvolgende dag negatief verhandel met pryse wat tussen 0,4% en 0,85% gedaal het. Druk is op pryse geplaas weens die sterker wisselkoers.
- Die sojaboon Oktober ’22-kontrak het R40/ton swakker verhandel teen R9 140/ton. Die sojaboon Desember ’22-kontrak het R78/ton laer verhandel teen R9 287/ton. Die sojaboon Mei ’23-kontrak het teen R8 750/ton, R70/ton laer, verhandel.
Koring:
- Die Amerikaanse koringmark het 'n beskeie rondte tegniese verkope en winsneming ervaar nadat dit Maandag drie-maand-hoogtepunte bereik het. Pryse het tussen 0,25% en 1% gedaal. Koringuitvoer was sterk met die syfer wat alle handelskattings getroef het. Die Filippyne was die nommer-een bestemming.
- Die Russiese konsultasiemaatskappy Sovecon skat dat die lande se koringuitvoer 'n maandelikse toename van 17% sal sien, maar hierdie syfer sal steeds 12% laer wees as die vorige seisoen.
- Plaaslik: Die plaaslike koringmark het gemeng maar meestal negatief verhandel. Beide winste en verliese was baie marginaal.
- Die koring Oktober '22-kontrak het teen R7 105/ton verhandel, R37/ton swakker. Die koring Desember ’22-kontrak het teen R7 166/ton verhandel - R33/ton laer.
