Agriculture
Munisipaliteit wil jeugdiges bemagtig deur hulle aan landbougeleenthede bloot te stel─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 31 Oct 2022
Meer as 100 jeugdiges van Sasolburg, Deneysville en Oranjeville in die Vrystaat het deel gevorm van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit se eerste Jeug in Landbou-funksie.
Die munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, Gino Alberts, sê hulle is opgewonde oor hierdie initiatief en beplan om jeugdiges jaarliks aan verskeie landboubedrywe bloot te stel.
Sien onderstaande PODCAST
Die funksie is in Deneysville gehou met verskeie ander organisasies soos SEDA en Sernick wat ook deel van die geleentheid was.
“[Ons gebied] is meer ‘n industriële gebied, en ‘n klein persentasie van ons gebied is besig met landbou.
“Ons wil verseker dat ons die landbousektor vergroot in ons gebied, daarom het ons besluit kom ons fokus op landbou… sodat dit komplementerend kan wees met ander landbou-areas, soos die Oos-Vrystaat en die Bultfontein gedeelte,” verduidelik Alberts.

Hy sê verder dat dit die begeerte van die uitvoerende burgemeester, Jeff Zwane, is om hierdie geleentheid jaarliks te hou, “want ons het baie land in die Sasolburg-omgewing. Ons het ook [baie] water… wat ons kan help om ons landbousektor te vergroot in ons area.”
Alberts sê die munisipaliteit se funksie is nie net om dienste te lewer nie, maar om ook te verseker dat geleenthede vir plaaslike besighede en die jeug geskep word om ten einde die gemeenskap te bemagtig.
