Agriculture
Landbounuus-podcast: Vrystaat Landbou besoek Lesotho-grens─── ELSABÉ RICHARD 14:01 Wed, 02 Nov 2022
Vrystaat Landbou, tesame met onder andere die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, sal na verwagting die Lesotho-grens besoek.
Dit volg nadat onwettige aktiwiteite en misdaad die veiligheid van boere, hul gesinne en werkers nadelig raak. OFM-nuus se Elsabé Richard-May berig die organisasie se Jakkals le Roux sê hulle het reeds die afgelope jare verskeie versoeke aan die regering en die LUR van Polisie, Paaie, en Vervoer gerig om behulpsaam te wees om die 18 tot 20km grenspad te rehabiliteer, sodat dit aanvaarbaar vir wetstoepassing is om die nodige grensbeskerming te verskaf, en ook voorkomende operasies van stapel te stuur.
Die suikervervaardiger, Tongaat Hulett, se sakeredding het verskeie vrae laat ontstaan. Professor Frikkie Maré, senior landbou-ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat, sê een vraag is of suiker wat reeds gelewer is, steeds uitbetaal gaan word. Maré sê dit laat die vraag verder ontstaan oor wat presies gaan gebeur met die skakels in die waardeketting. SA Canegrowers het intussen ook sy kommer uitgespreek, nadat meer as R400 miljoen wat aan die einde van Oktober aan produsente betaal moet word, waarskynlik nie betyds oorgedra sal word nie.
EN
Die Britse regering het streng maatreëls ingestel oor die ergste uitbreking van voëlgriep tot nog toe in Europa. Dit behels dat alle pluimvee en hokvoëls in Engeland van volgende week af binnenshuis gehou moet word om die siekte te bekamp. Volgens die SAUK het verskeie kommersiële hoenderplase in Engeland gevalle van die siekte aangemeld, terwyl Frankryk reeds groot skade gely het. In Nederland is duisende hoenders verlede week van kant gemaak. In Amerika en Kanada is daar volgens berigte ook tans die grootste uitbreking van die siekte tot nog toe.
OFM-nuus
