Agriculture
'Klimaatsverandering bied ook geleenthede'─── ELSABÉ RICHARD 06:00 Wed, 09 Nov 2022
Die aanstelling van Agri SA se hoof van beleid- en regsake, Janse Rabie, as lid van die Presidensiële Klimaatkommissie is deur die organisasie verwelkom.
Rabie se aanstelling deur President Cyril Ramaphosa kom te midde van die sewe-en-twintigste sitting van die Konferensie van die Partye (COP27) in Sharm El-Sheikh in Egipte.
Sien onderstaande PODCAST
Rabie het met OFM-nuus gedeel dat hierdie kommissie se rol al hoe belangriker word terwyl Suid-Afrika aanpas by die uitwerking van klimaatsverandering.
LEES OOK: Suid-Afrikaanse boere deur Saai by COP27 verteenwoordig
Die Presidensiële Klimaatkommissie is gestig om die regverdige oorgang na 'n lae-koolstof, klimaatbestande ekonomie te koördineer, wat in lyn is met die Verenigde Nasies se raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering (UNFCCC) en die Parys-ooreenkoms, waarvan Suid-Afrika 'n party is.
“Wat vir my die mees verblywende aspek van die aanstelling is, is dit gaan nie net oor of dit Agri SA en of dit ek self is wat die aanstelling gekry het nie, maar dat landbou ‘n sektorverteenwoordiger het op ‘n uiters belangrike advieskomitee soos die presidensiële klimaatkomitee.
“Ek dink dis uiters belangrik dat landbou se posisie die nodige gewig begin dra in die samesprekings rondom die hantering van die oorsake, asook die gevolge van klimaatsveranderinge, en daarvoor is ons baie dankbaar,” deel Rabie verder.
ALSO READ: COP27 summit starts in Egypt
Die landbousektor is tot ‘n groot mate onderworpe aan die natuurlike omgewing. Droogte en ongekende weerpartone het die potensiaal om landbouers se vermoë om voedsel te kan produseer negatief beïnvloed.
“Daar is aansienlike werk aan die gang om die oorsake en gevolge van klimaatsverandering aan te spreek, insluitend die Wetsontwerp op Klimaatsverandering wat tans deur die parlement beweeg, en die landbousektor moet 'n integrale rol speel aangesien Suid-Afrika 'n samehangende en doeltreffende reaksie op die groeiende bedreiging formuleer.”
Geleenthede
Ten spyte van die risiko’s wat klimaatsverandering inhou, sê Rabie is daar ook geleenthede - groot geleenthede vir innovasie soos nuwe tegnologie en die omskakelling van die koolstof-gedrewe energiesektor na hernubare energie.
“Agri SA was onwrikbaar in sy beroep op die insluiting van meer verteenwoordigers uit die landbousektor, 'n noodsaaklikheid indien Suid-Afrika 'n holistiese benadering tot die regverdige oorgang gaan ontwikkel wat nuwe geleenthede vir jong Suid-Afrikaners in alle sektore van die ekonomie skep.”
Boere by COP27 verteenwoordig
Intussen verteenwoording die landbou-organisasie, Saai, Suid-Afrikaanse boere by COP27.
Volgens Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sal uitdagings met aanpasbaarheid, metaangasvrystelling by herkouers, belastings en tariewe op vleis, wol en veen, koolstofkrediete, nuwe produksietegnologie en naspeurbaarheid bespreek word.
Meer as 70 landbouleiers van oral in die wêreld is genooi om die geleentheid by te woon.
