On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Hier is van jou hoof landboustories op OFM

───   ELSABÉ RICHARD 06:00 Fri, 20 Jan 2023

Hier is van jou hoof landboustories op OFM | News Article
FOTO: John Deere.

Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf.

Nersa se aankondiging dat elektrisiteitstariewe met 18,65% kan verhoog, is nie net slegte nuus vir die landbousektor nie, maar ook vir die hele Suid-Afrikaanse ekonomie. Agri Noord-Kaap se president Nicol Jansen is bekommerd dat prysverhogings tot kriminaliteit sal ly.

Beurtkrag is die afgelope tyd die gonswoord in landbou, met kommer dat produsente groot verliese kan ly weens bedrywighede wat tot stiltand kom. Melkprodusente-organisasie se Fanie Ferreira sê die suiwelbedryf is geweldig afhanklik van elektrisiteit en dat die kragonderbrekings 'n negatiewe impak op die waardeketting het. Ferreira sê die beurtkrag beïnvloed ook die prys van suiwelprodukte.

Die omgewingsvoorsitter van Agri Noord-Kaap, Eben Anthonissen, bevestig dat 19 plase in die John Taolo Gaetsewe-streek deurgeloop het onder verwoestende veldbrande wat Sondagoggend begin het. Twee-en-twintig-duisend hektaar weiveld, grotendeels op kommersiële landbougrond, is vernietig. Anthonissen sê geen veeverliese is sover aangemeld nie. Hy dra ook geen kennis van die presiese hoeveelheid wild wat in die brande omgekom het nie.

Voorbereiding vir die brandseisoen is aan die gang. Die Mangaung-brandbeskermingsvereniging waarsku op sy Facebook-blad dat dit tans groen en welig is in die Mangaung-omgewing, maar dat daardie groen gras in 'n gevaarlike brandstof verander in die winter. Die vereniging raai inwoners aan om nóú al te begin voorberei deur brandbane te maak en om ontslae te raak van gras wat teen 'n gebou se muur groei en blare wat in geute opgehoop het. Van Sentraal-Suid-Afrika se produsente het die afgelope jare groot skade weens veldbrande gely, wat infrastruktuur en veeverliese insluit.

EN

Trekkerverkope vir Desember 2022 was ongeveer 10% meer as in Desember 2021, met 730 eenhede verkoop. Volgens die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie was verkope in 2022 byna 17% hoër as die vorige jaar s'n én die hoogste jaarlikse verkope vir die afgelope 40 jaar. Ses-en-twintig stropers is ook in Desember verkoop, agt eenhede meer as die agttien eenhede wat in Desember 2021 verkoop is.

OFM-nuus

 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.