On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Jongboere moet fokus op volhoubare boerderypraktyke

───   ELSABÉ DE JAGER 14:42 Tue, 16 May 2023

Jongboere moet fokus op volhoubare boerderypraktyke | News Article
Gideon en Rodien van Zyl by (van links): Mira, Jana, Liané en Lin-Mari.

“Ons ondersteun mekaar, maak mekaar sterk en glo in mekaar se drome.”

Roedien, vrou van Noordwes se nuwe Jongboer van die jaar, Gideon van Zyl, sê Vrydagaand (12/5) se toekenning was ’n emosionele belewenis. Vir haar en Gideon span dit die kroon op baie jare se saamwerk, trane, lag en leerprosesse.

Gideon (39) is op 12 Mei as Agri Noordwes en Santam Landbou se Jongboer van die jaar aangewys.

Dié Vryburger, wat sedert 2006 voltyds boer, is ook ’n leier in die boerderygemeenskap. Hy dien sedert verlede jaar as visepresident van Agri Noordwes. Ook is hy voorsitter van die Agri Salpeterpan- en Agri Greater Taung-landbouvereniging.

Dit is van uiterste belang dat jongboere op volhoubare boerderypraktyke moet fokus, sê Gideon, omdat hulle die toekomstige bewaarders van natuurlike hulpbronne is. Voedselvoorsiening, handel, werkverskaffing en die ontwikkeling van die platteland speel ’n noodsaaklike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

‘Hulle help inderdaad … om die beeld van landbou te verbeter’

Al die deelnemers aan vanjaar se kompetisie is dinamies en vooruitstrewend, sê Edric Badenhorst, voorsitter van Agri Noordwes se Jongboerkomitee. Hulle help inderdaad met die komitee se strewe om die beeld van landbou te verbeter. Die twee medefinaliste was Mick Carrol van Lichtenburg en Hendrick Reyneke van die distrik Piet Plessis.

Van Zyl sal Noordwes later vanjaar in Agri SA en Toyota SA se Nasionale Jongboer van die jaar-kompetisie verteenwoordig. In die onlangse verlede het twee Noordwes-boere, Sakkie van Zyl en JP van den Berg, onderskeidelik 2014 en 2018, met dié louere weggestap.

Agri Noordwes het onlangs ook landbouverenigings by landbouskole in die provinsie gestig. Jong leerders word aangemoedig om hierby aan te sluit en so van jongs af deel uit te maak van die landbougemeenskap.

Vir Gideon en Roedien wag daar DV nog ’n lang en goeie toekoms om saam met hul gesin die voorrreg van God se skepping, die natuur, diere en mense te geniet en daagliks daarmee te werk.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.