Agriculture
Landbou, die slagaar van Vrystaatse ekonomie─── ELSABÉ RICHARD 08:43 Mon, 22 May 2023
Die groot rol wat landbou in die plaaslike ekomonie speel, het weereens die afgelope week by Graan SA se NAMPO Oesdag buite Bothaville helder geskyn.
Die LUR vir die Vrystaatse Departement van Landbou Saki Mokoena het die grootste landbouskou in Suid-Afrika as 'n kritieke geleentheid bestempel, nie net vir diegene wat rééds in die landbousektor betrokke is nie, maar ook vir leerders wat in hul getalle by NAMPO Park opgedaag het.
“Wat my opgewonde maak, is dat [Graan SA se NAMPO Oesdag] vir my verskeie opsies begin gee in terme van wat ons tot ons beskikking kan gebruik om die Vrystaat deur landbou te laat groei, ons mense in diens te neem, in agri-verwerking te gaan en seker te maak dat ons werklik die Vrystaat ekonomies bou en die nuwe bedrywe wat dit rondom die landbou vereis," sê Mokoena.

Besoekers by NAMPO Park.
Vrystaatse paaie onder die loep gebring
Mokoena, met die Vrystaatse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer MaQueen Letsona-Mathae, het Vrydag op die laaste dag van die skou met belanghebbendes soos onder meer die provinsiale landbou-organisasies en kommoditeitsgroepe tydens ‘n vergadering die provinsie se paaie bespreek.
Boere in die provinsie het keer op keer kommer uitgespreek oor die toestand van paaie en hoe dit hulle belemmer om produkte te vervoer vanaf die plaas tot by die markte. Ook is padgebruikers se lewens in gevaar aangesien paaie vol slaggate is.
"As hierdie uitdaging onbewaak gelaat word, kan dit ernstige gevolge vir die sektor in sy geheel tot gevolg hê. Dit is om hierdie rede dat dit verstandig beskou word om hierdie uitdagings van landelike paaie aan te spreek."

LUR Saki Mokoena.
Letsona-Mathae sal na verwagting ‘n lys van paaie verskaf wat dringend aandag verg sowel as die skedule vir wanneer dit herstel sal word.
Mokoena nader Minister Pravin Gordan oor spoorweë
LUR Mokoena sê hy beplan om met Minister Pravin Gordan te vergader om te kyk na die rehabilitasie van spoorweë wat tot die voordeel van landbou gebruik kan word.
