Agriculture
Landbounuus-podcast: Boere gemaan om meer te doen om hulself teen misdadigers te beskerm─── ELSABÉ RICHARD 14:35 Wed, 24 May 2023
Boere in Sentraal-Suid-Afrika word gemaan om meer te doen om hulself, hul gesin en werkers teen plaasaanvalle en -moorde te beskerm omdat die wreedaardigheid van dié misdade geen afname toon nie.
Volgens AfriForum se jongste kwartaallikse verslag is 77 plaasaanvalle van Januarie tot Maart landwyd aangemeld en nege moorde. Gauteng se 19 aanvalle was die meeste, gevolg deur 10 elk in Noordwes en KwaZulu-Natal, nege in die Wes-Kaap en agt in die Vrystaat.
Onderstepoort Biologiese Produkte, OBP, ervaar uitdagings weens veroudering van infrastruktuur, wat entstofproduksie verminder het. Die Departement van Landbou sê hy werk saam met OBP om 'n volhoubare entstof-produksie-strategie te implementeer, wat die vind van 'n bevoegde entstofvervaardigingsvennoot insluit. Suid-Afrikaanse produsente ervaar 'n tekort aan sekere lewendehawe entsowwe. Die departement sê 'n konsekwente beskikbaarheid van entstowwe sal dié uitdaging verlig.
Saadpryse het die laaste jare met sowat 4 tot 6% gestyg. Bayer kommersiële bestuurder in Suid-Afrika, Kobus Meintjes, sê pryse het egter vanjaar met 21% gestyg omdat insetkoste verlede jaar die hoogte in geskiet het met die produsering van saad.
Jaarlikse verbruikersinflasie het in verlede maand tot 6,8% gedaal vanaf 7,1% in Maart. Statistieke SA direkteur van prysstatistieke, Marietjie Bennett sê die jaarlikse inflasiekoers vir voedsel het afgeneem tot 13,9% in April van 14% die vorige maand, met inflasieverligting vir vleisprodukte, en olies en vette.
EN
Die sluitingsdatum vir produsente om hul loonopgawes by die Vergoedingsfonds in te dien, is om die draai. Work Accident Support se Stephan Pietersen sê loonopgawes moet aanlyn ingedien word. Boetes is betaalbaar as produsente die sluitingsdatum van 31 Mei misloop.
