Agriculture
Landbounuus: Fondsinsameling begin om beseerde Suid-Afrikaner se ma na VSA te vlieg─── ELSABÉ RICHARD 15:01 Fri, 23 Jun 2023
Vriende het 'n geldinsameling begin om 'n jong Suid-Afrikaner se ma na Amerika te vlieg nadat hy ernstig beseer is op die plaas waar hy werk.
Die 21-jarige Adriaan Taute van Gauteng, wat op 'n plaas in Montana in die VSA gaan werk het, is ná 'n vierwielmotorfietsongeluk met ernstige beserings in 'n hospitaal opgeneem. 'n Familievriend sê hy het verskeie operasies ondergaan en is steeds in die intensiewesorgeenheid. Sy ma, Susan, sê sal vir 'n paar weke daar moet bly.
Die Cheetah Outreach Trust waarsku die publiek om nie paniek te saai óf gerugte op sosiale media te versprei oor 'n beweerde rondloper jagluiperd naby Upington, asook luiperds in die Kathu/Olifantshoek-omgewing in die Noord-Kaap nie. Die trust se Deon Cilliers sê daar is intussen ook 'n bevestigde aanmelding van jagluiperds in die Springbok/Kamieskroon-omgewing.
Twee vermeende sojadiewe sou Vrydag in die Reitz-landdroshof verskyn vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Dit volg nadat die verdagtes, van Delmas, glo R450 000 se sojabone op ’n gehuurde vragmotor gelaai het by Pertus Steyn se silo’s.
Trekkerverkope, veral van kleiner tot middelslag-eenhede, is die laaste maande traer. Die SA Landboumasjineriegenootskap sê boere toon tekens van omsigtigheid en meer faktore beïnvloed hulle besluite. Benewens oesopbrengste en -gehalte, kommoditeitspryse en die wisselkoers van die rand, moet El Niño en beurtkrag nou ook in ag geneem word wanneer besluite oor aankope geneem word. Die genootskap sê ramings vir trekkerverkope in 2023 kan nou tussen 10 en 15% minder wees as verlede jaar.
EN
'n Dokter verbonde aan die mediese nie-winsgewende organisasie, Pediatric care Africa, gaan volgende Sondag die pad deur vyf provinsies ‘n trekker aanpak om 2 500 km af te lê vir liefdadigheid en bewusmaking van plaasaanvalle. Dr. André Hattingh sê dis hul tweede rit in 'n trekker om geld in te samel vir kinders wat operasies nodig het.
