Agriculture
Landbounuus: Nadoodse ondersoek toon Noordwes-boer is vermoor─── ELSABÉ RICHARD 15:50 Wed, 12 Jul 2023

Die nadoodse uitslae van 'n Noordwes-boer wie se liggaam Saterdag deur sy werkers naby sy plaashek gevind is, wys dat hy wel vermoor is.
Die polisie het vroeër vandeesweek aan OFM Nuus gesê 'n geregtelike doodsondersoek is gedoen om te bepaal wat die oorsaak van die dood is van die 67-jarige Fred Jansen van Rensburg. Sy skoondogter het die uitslag aan Maroela Media bevestig. Jansen van Rensburg het die plaas in die Boshoek-omgewing naby Sun City bestuur. Hy en sy werkers sou Saterdagoggend, soos gewoonlik, die beeste gaan tel.
'n 38-jarige verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn nadat hy glo sy werkgewer se vee ter waarde van byna R90 000 verkoop het. Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, Timothy Sam, sê die verdagte, wat op 'n plaas naby Richmond werk, het na bewering ook R90 000 kontant gesteel nadat hy by die boer se huis ingebreek het. Hy is vandeesweek in Somerset-Oos in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat hy op die vlug geslaan het.
Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe het verskeie verslae ontvang wat bevestig dat hemorragiese haassiekte weer sy kop uitgesteek het. Dié siekte het wydverspreide sterftes van wilde en mak hase oor die Noord-, Wes- en dele van die Oos-Kaap tussen Oktober 2022 en Februarie 2023 veroorsaak. Die mees onlangse verslae dui daarop dat die siekte aktief is in die Knysna-omgewing in die Wes-Kaap, en in die Langkloof-omgewing in die Oos-Kaap.
Die min gras en bossies weens jare se droogte in die Richterveld-omgewing kon nie die afloop van baie water weens swaar reën buffer nie. Agri Noord-Kaap-president, Nicol Jansen, sê die water het groot strukturele skade veroorsaak.
EN
’n Bonsmara-bul het onlangs ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel toe hy vir R4,4 miljoen verkoop is. Dié bielie van 'n bees is gekenmerk deur uitstekende bouvorm, 'n sterk kop en uitsonderlike diepte. Hy is deur Up George Bonsmaras in KwaZulu-Natal verkoop aan Sebadja Bonsmaras in Marble Hall. Nóg 'n Up George-bul is vir R2 miljoen op dieselfde veiling verkoop, wat verlede week gehou is, en is verkoop aan Ons Tuiste Bonsmaras in Rustenburg in Noordwes.