On Now
Weekends 20:00 - 23:59
Saturday Nights OFM
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Boetes vir nie-nakoming van COIDA, aanmelding van werksbeserings en -siektes

───   ELSABÉ RICHARD 13:39 Mon, 17 Jul 2023

Boetes vir nie-nakoming van COIDA, aanmelding van werksbeserings en -siektes | News Article
FOTO: cottonbro studio/Pexels.

Werksbeserings en -siektes moet in 'n voorgeskrewe tydperk van onderskeidelik 7 en 14 dae by die Departement van Indiensneming en Arbeid aangemeld word.

OFM Nuus se Elsabé Richard-May gesels weer hierdie week met Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support, hieroor:

Watter ander boetes word ook voorgestel in terme van die nuwe wysigingswet?

'n Definitiewe boete waarna gekyk moet word, is vir die laat rapportering van 'n werksbesering. Eerstens, waarna ons moet kyk, is die definisie van 'n werksbesering in terme van de Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (WVBBS/COIDA).

Dit is 'n insident of voorval wat uit die werker se diens ontstaan en in die loop daarvan plaasvind. Dit het 'n persoonlike besering, siekte, beroepsiekte of die dood van die werker tot gevolg.

LEES OOK: Produsente se uitdagings met vergoedingsfonds, beroepsbeserings en -siektes

Alle werksbeserings en beweerde beserings moet binne sewe dae nadat kennis ontvang is van dié besering by die Departement van Indiensneming en Arbeid gerapporteer word. Dit, terwyl beroepsiektes binne 14 dae by die departement aangemeld moet word. Indien dit gerapporteer word ná die voorgeskrewe tyd, sal 'n boete van 10% van die vorige jaar se verklaarde lone uitgreik word. Dit sal 'n vreeslike gevolg op enige besigheid se kontantvloei hê.

LEES OOK: Wysigingswet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes verduidelik

Jy het verlede week bietjie hieroor gesels, maar kan jy meer uitbrei oor praktiese wenke wat boere kan help om boetes te vermy?

Eerstens moet alle besighede en natuurlik produsente 'n profiel skep op die nuwe elektroniese platform CompEasy om sodoende werksbeserings te rapporteer. Dit sal 'n produsent in staat stel om 'n besering onmiddellik te rapporteer en natuurlik sal dit dan die boete voorkom. 

LEES OOK: Gevolge van nie-nakoming van Vergoedingsfondsregulasies

Indien 'n produsent nie self die administrasie van die werksbeserings wil behartig nie, kan hy/sy 'n derde party aanstel om die administrasie namens hom/haar te hanteer. Produsente sal sodoende ook meer tyd beskikbaar hê om op hulle boerdery te fokus.

Nou met die rapportering van 'n werksbesering, wat is die eerste plig wat 'n produsent moet verrig?

Eerstens moet die voorgeskrewe verslag van die Vergoedingsfonds voltooi word om die werksbesering te beskryf. 'n Afskrif hiervan moet aan die dokter voorsien word wat die werker behandel vir die besering. Tesame hiermee moet 'n afskrif van die beseerde se identiteitsdokument en salarisadvies ook aan die Vergoedingsfonds voorsien word. 

LEES OOK: Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes: Produsente se verantwoordelikhede

Indien die dokter se mediese verslag beskikbaar is, moet dit ook voorsien word. Dit kan ongelukkig partykeer 'n paar dae neem voordat 'n dokter die eerste mediese verslag voltooi en ek stel voor dat produsente nie tot dan moet wag om 'n besering te rapporteer nie.

Wat is die volgende onderwerp waaroor ons sal gesels waarna produsente uit kan sien?

Ons kyk volgende keer verder na die voordele wat produsente kan benut in terme van die wet, ook na die vervoer van 'n beseerde werker, want die nuwe wysigingswet maak ook hiervan melding.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.