Agriculture
Gevolge van nie-nakoming van Vergoedingsfondsregulasies─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 16 Aug 2022

Die Departement van Indiensneming en Arbeid het onlangs statistieke oor sy inspeksies wat in die Wes-Kaap plaasgevind het vir 2021, gepubliseer.
Sien onderstaande PODCAST
Stephan Pietersen van Work Accident Support, verduidelik dat uit die 30 252 inspeksies is 8 809 besighede aangeteken vir nie-nakoming, en 804 verwys vir vervolging. ‘n Bedrag van R2 563 440 is ingevorder.
As daar na inpseksies in terme van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes gekyk word, kan ‘n gevolgtrekking gemaak word dat uit die 1 186 inspeksies wat uitgevoer is, 638 besighede aangeskryf is vir nie-nakoming van regulasies, en R621 540,07 is ingevorder.
LEES OOK: Korrekte landbou-subklas registrasie belangrik
Op Vrydag 12 Augustus het Business Unity South Africa (BUSA) ‘n vergadering gereël met die Vergoedingsfonds wat deur ‘n aantal rolspelers bygewoon is. Daar is tydens die vergadering syfers verskaf van die aantal besighede wat geregistreer is met die fonds, maar wat nie jaarlikse loonopgawes verklaar nie.
Boerderye wat met die Vergoedingsfonds geregistreer, maar nie jaarlikse loonopgawes verklaar nie, is as volg:
- Veeboerderye: 16 159
- Gemengde boerderye: 7 519
- Suiker- en teeboerderye: 702
- Grondbewerking en bosbou: 67
LEES OOK: Kennisgewing deur departement raak ook produsente
Boetes vir die nie-nakoming van regulasies
Alle produsente moet by die Vergoedingsfonds geregistreer wees om hulle werkers te verseker teen werksbeserings binne sewe dae nadat die eerste werker aangestel is.
Produsente wat dan laat registreer en hulle lone laat verklaar, sal ‘n 10% boete van die spesifieke jaar se aanslag-rekening ontvang.
Gestel ‘n boerdery is ‘n rekening van R100 000 vir 2021 uitgereik, maar die lone is laat verklaar, sal ‘n boete van R10 000 uitgereik word.
LEES OOK: Voordele van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes
Nog ‘n moontlike boete wat uitgereik kan word, is vir die laat betaling van ‘n boete.
Die aanslag-rekening word vir byvoordbeeld 2021 uitgereik, maar ook voorlopig vir die komende jaar.
Hierdie boetes kan in ‘n aardige bedrag verander, maar is iets wat voorkom kan word.
Verder moet daar kennis geneem word dat besigheide wie nie hulle rekening betaal nie, sal maandelikse rente op die uitstaande bedrae gehef word, en dieselfde besighede kan ook verwys word vir vervolging en die howe sal bepaal wat verder gebeur.
Hoe boetes vermy kan word
Jaarliks moet lone teen Maart verklaar word of wanneer die Vergoedingfonds dit aankondig. Produsente moet die media dophou hiervoor of direk kyk op die departement se webtuiste. Sodoende sal produsente presies weet wanneer die lone elektronies verklaar moet word.
Rekeninge is altyd binne 30 dae betaalbaar.
Registrasie is uiters belangrik
Dit is baie belangrik vir produsente om te verseker dat hulle wel geregistreer is met die fonds, hulle lone verklaar en die rekening betaal of ‘n afbetalingsreëling tref. As dit alles nie op datum is nie, kan dit die werker se gesondheid beïnvloed sou hy/sy aan diens seerkry.
Dokters weier deesdae om die nodige behandeling te gee as die papierwerk nie op datum is nie, en dan kan produsente ongelukkig ook vervolg word.
Produsente moet ook seker maak dat kontrakteurs wat werk vir hulle verrig, ook by die Vergoedingsfonds geregistreer moet wees.
“Wanneer ‘n produsent ooit ‘n dispuut met die Vergoedingsfonds het oor ‘n rekening, sal ek voorstel dat ‘n daar ‘n afbetalingsreëling getref moet word terwyl die dispuut uitgesorteer word, en dat die rekening nie net vermy moet word nie.
“ ‘n Voorbeeld hiervan is as die verkeerde lone verklaar is, het ‘n produsent 60 dae kans om dit onder die aandag van die Vergoedingsfonds te bring.
“Terwyl daar aansoek gedoen word om die rekening reg te stel, sal ek voorstel dat die produsent intussen aansoek doen vir ‘n afbetalingsooreenkoms,” sluit Pietersen af.
support@workaccident.co.za
064 360 2638