Agriculture
Landbounuus: Moordenaars lank agter tralies vir moord op Hammanskraal-egpaar─── ELSABÉ RICHARD 14:53 Mon, 17 Jul 2023
Die Nieuwoudt-familie kan 'n pad van genesing begin stap in die wete dat drie moordenaars lank agter tralies gaan sit, ná die moord op twee familielede op hul kleinhoewe naby Hammanskraal, noord van Pretoria.
Die 75-jarige Dries en sy 71-jarige vrou, Mariaan, is byna drie jaar gelede kort voor Kersfees oorval deur drie mans wat uit was op parool.
Luisteraars word aangemoedig om enige gevalle van dieremishandeling wat hulle waarneem of vermoed, aan te meld, en die regstelsel te help om geregtigheid vir diere te laat geskied. Die Dierebeskermingsvereniging verwelkom die vonnisoplegging van 'n onwettige immigrant wat onlangs skuldig bevind is aan dieremishandeling en veediefstal. Bloemfontein DBV se Reinet Meyer sê veertien bokke en 17 skape is agter in 'n vragmotor ingeprop met geen ventilasie nie.
Agri SA gaan finansiële ondersteuning bied aan die appellant in die Mola-dora-saak wat appelleer teen 'n Grondeisehof-uitspraak wat weidingsregte beskerm ten koste van private eiendomsreg. Dis ingevolge die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, oftewel ESTA. Agri SA sê as hierdie uitspraak gehandhaaf word, sal dit die administratiewe en regskoste van verwyderings kragtens ESTA sowel as die aanspreeklikheid van grondeienaars aansienlik verhoog. Dit kan ’n belangrike presedent skep met verreikende gevolge vir private eiendomsreg.
Suid-Afrika het meer as 200 aktiewe hemorragiese haassiekte-gevalle wat aangemeld is by die wêreldorganisasie vir dieregesondheid. Dié siekte veroorsaak wydverspreide vrektes onder wilde en mak hase. Landboudepartement-woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê die meeste gevalle - 165 - is in die Noord-Kaap aangemeld, met 41 in die Wes-Kaap. Eienaars word aangemoedig om hase te laat inent.
Dit is kommerwekkend dat namate die aflewering van sitrus na hawens ’n hoogtepunt bereik, misdadigers vragmotors op die belangrikste roetes in die land aan die brand steek. Die SA Sitruskwekersvereniging sê dit is belangrik dat die oorsaak van dié misdaad vasgestel en aangespreek word sodat diegene wat die padinfrastruktuur gebruik dit sonder vrees kan doen. Die vereniging sê in die geval van sitrus moet uitvoerders nou meer betaal, en soms weier vragmotormaatskappye om goedere onder hierdie omstandighede te vervoer.
