On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Rusland, Indië se landboubeleidstellings ’n risiko vir globale voedselpryse

───   ELSABÉ RICHARD 08:03 Tue, 25 Jul 2023

Rusland, Indië se landboubeleidstellings ’n risiko vir globale voedselpryse | News Article
Rusland se president, Vladimir Poetin. Foto: @mfa_russia/Twitter.

Die afgelope tyd is nuusopskrifte oorheers deur wêreldwye landbougebeure, soos Rusland se aankondiging dat hy uit die Swartsee-graanooreenkoms onttrek.

Graanuitvoer, spesifiek vanaf Oekraïne, is ontwrig toe Rusland die land in Februarie 2022 binnegeval het. 

Maar die toenemende kommer oor globale voedselsekerheid het daartoe gelei dat die Verenigde Nasies en Turkye in Julie 2022 'n ooreenkoms tussen Rusland en Oekraïne bemiddel om die veilige beweging van graan van die Oekraïne na die wêreldmark toe te laat terwyl die oorlog voortduur.

LEES OOK: Rusland staak Swartsee-ooreenkoms, wat dit vir Suid-Afrika beteken

Landbousakekamer van Suid-Afrika se hoofekonoom Wandile Sihlobo sê die redes vir Rusland se onttrekking is nie duidelik nie, maar dit blyk dat die aanval op die Kerch-brug, wat die Krim-skiereiland met die Russiese vasteland verbind, Rusland kwaad gemaak het. 

"Dit is moontlik nie die enigste rede nie. Voor verlede week se gebeure wou Rusland die uitvoer van ammoniak en ander kunsmismateriaal na die wêreldmark verhoog en dit het vereis dat die EU die Russiese Landboubank weer aan die wêreldwye elektroniese betaalnetwerk, SWIFT, moes koppel. 

LEES OOK: Dit is oorlog as Poetin in hegtenis geneem word – Ramaphosa

"Rusland het geëis dat dit gedoen word vir hulle om die Swartsee-graanooreenkoms te hernu, wat nie gebeur het nie," sê Sihlobo.

Graan SA landbou-ekonoom, Heleen Viljoen, voeg by dat wat hulle van graanbemarking se kant af kan sê, is dit Rusland al 'n hele ruk nie met die ooreenkoms wou aangaan nie, en het toe amptelik op 17 Julie onttrek.

"Die amptelike rede wat Rusland daarvoor gee, is dat hulle ongelukkig voel met hoe die ooreenkoms verloop het oor die laaste paar maande, en dat hulle graag wil hê dat daar aan hulle behoeftes voldoen moet word," sê Viljoen.

LEES OOK: Hoe Suid-Afrika Brics vir landboubesigheid kan benut

Rusland het intussen aangekondig dat hy Afrika-lande sal vergoed vir enige graan wat verlore is ná sy onttrekking aan die Swartsee-graanooreenkoms. 

eNCA berig Moskou het maande lank gekla 'n verwante ooreenkoms vir die uitvoer van Russiese voedsel en kunsmis, word nie nagekom is nie. Rusland sê lande in nood sal die nodige versekering ontvang op 'n beraad later vandeesmaand. 

Indië se verbod op rysuitvoer

Sihlobo deel dat Indië ook amptelik 'n verbod op rysuitvoer aangekondig het, maar dit dek nie alle ryskategorieë soos sommige ontleders aanvanklik gevrees het nie. 

Dit is hoofsaaklik op die nie-basmati wit en gebreekte rys. 

"Tog is hierdie geaffekteerde kategorie beduidend. Dit is verantwoordelik vir 45% van die 22 miljoen ton rys wat Indië jaarliks na die wêreldmark uitvoer."

Indië het ook amptelik 'n verbod op rysuitvoer aangekondig. Foto: Ruth Bolaño/Pexels

Die rasionaal wat in verskeie media-artikels aangehaal word, is dat Indië se regering bekommerd is oor inflasie voor die komende verkiesings.

Dit is te verstane dat baie mense bekommerd is oor hierdie ontwikkeling omdat Indië wêreldwyd 'n beduidende produsent van rys is, sê Sihlobo.

"Die land is verantwoordelik vir 'n aandeel van 26% in die verwagte 2023/24 wêreldwye rysproduksie van 525 miljoen ton, volgens data van die Internasionale Graanraad.

"Van die 50 miljoen ton rys vir globale uitvoer wat vir die 2023/24-seisoen geprojekteer word, sal Indië na verwagting sowat 40% uitmaak. Maar die geaffekteerde nie-basmati-wit- en gebreekte rys is verantwoordelik vir 18% van die wêreldwye rysuitvoer, wat steeds 'n beduidende deel is, en wek dus kommer oor potensiële stygende pryse.

"Ander noemenswaardige rysuitvoerders is Pakistan, Thailand, die VSA, Viëtnam, China, Kambodja en Myanmar. Maar Indië is die grootste uitvoerder van al hierdie lande."

Die uitvoerverbod, gekombineer met die nie-hernuwing van die Swartsee-graanooreenkoms, sal waarskynlik hierdie konstruktiewe siening van globale voedselpryse verander, sluit Sihlobo af.

OFM Nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.