Agriculture
Rusland staak Swartsee-ooreenkoms, wat dit vir Suid-Afrika beteken─── ELSABÉ RICHARD 14:08 Wed, 19 Jul 2023
Rusland het hom Maandag uit die graanooreenkoms met Oekraïne onttrek.
Die Swartsee-initiatief is ‘n belangrike uitvoerooreenkoms wat in 2022 tussen Rusland, Oekraïne, die Verenige Koningkryk en Turkye onderteken is om die uitvoer van graan en ander voedselgoedere vanuit Oekraïne moontlik te maak.
LEES OOK: Onsekerheid heers steeds ná Rusland, Oekraïne se uitvoerooreenkoms
“Die agtergrond van die ooreenkoms was basies om uitvoer te kan bewerkstellig, maar deel van daardie ooreenkoms het ook ingesluit dat beide hierdie vier lande ‘n skip moet inspekteur en onderteken om deur die poorte oorkant Turkye te kan deurgaan.
“Wat in realiteit met die ooreenkoms gebeur het toe dit geteken is, is dat grane nie so effektief uitgegaan het nie, maar dat die persepsie daar geskep is dat grane wel volspoed uitgevoer word,” verduidelik Heleen Viljoen, ‘n landbou-ekonoom by Graan SA.
Viljoen sê die amptelike rede hoekom Rusland vanuit hierdie ooreenkoms onttrek het, is egter nog onseker. Volgens bewerings het Oekraïne 'n brug in Krimea laat ontplof het, maar die Kremlin het hierdie bewering weerlê. Nóg 'n rede is dat Rusland ’n amoniakpyplyn het wat deur een van Oekraïne se hawens gaan om sodoende kunsmis te kan uitvoer en te kan toevoeg tot hulle plaaslike produksie.
"Maar wat ons van 'n graanbemarking se kant af kan sê, is dit het al 'n hele ruk gekom dat [Rusland] nie met die ooreenkoms aangaan nie, en amptelik die 17de Julie het Rusland uit die ooreenkoms onttrek.
"Die amptelike rede wat Rusland daarvoor gee, is dat hulle ongelukkig voel met hoe die ooreenkoms verloop het oor die laaste paar maande, en dat hulle graag wil hê dat daar aan hulle behoeftes voldoen moet word."
Impak op Suid-Afrikaanse landbou
Viljoen sê Suid-Afrika is in 'n bevoorregte posisie om mielies en sojabone op 'n gereelde basis uit te voer.
LEES OOK: Suid-Afrika teken tweede grootste mielie-oes aan
As daar na die plaaslike koringbedryf gekyk word, is dit egter nie die geval nie. Suid-Afrika is afhanklik van invoer om sy plaaslike vraag te bevredig. Dit beteken internasionale pryse speel 'n groot rol in die plaaslike prysbepaling.
"As ons kyk na landbou as 'n geheel, gaan meeste van ons mielies en sojabone in veevoer in. Omdat ons netto-uitvoerders is, hoef plaaslike produsente, asook verbruikers, nie bekommerd te wees dat ons 'n tekort in die land sal beleef nie."
Die Nasionale Oesskattingskomitee het intussen onlangs Suid-Afrika se 2022/23 kommersiële mielieproduksieskatting met 1% tot 16,35 miljoen ton opwaarts aangepas vanaf Junie se skatting.
Dié oes is 6% meer as die 2021/22-seisoen en die tweede grootste oes op rekord.
