Agriculture
NWK verloor miljoene per dag weens Ditsobotla-kragkwessie─── ELSABÉ RICHARD 14:51 Fri, 18 Aug 2023
Beurtkrag alleen het ondernemings oor Suid-Afrika genoop om meer geld te bestee aan alternatiewe maniere om hul bedrywighede aan die gang te hou.
Dit, te midde van uitdagende ekonomiese tye.
Maar ondernemings in Lichtenburg in die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit, soos NWK, sit egter met bykomende kragkwessies wat nóg miljoene rande uit die sak ruk.
Nicolene Smalman, NWK-kommunikasiebeampte, sê ’n transformator het op 27 Julie glo weens vandalisme onklaar geraak. Hoewel dit toe vervang is, kon Eskom en die munisipaliteit slegs kragtoevoer na ’n gedeelte van Lichtenburg herstel.
Dit laat NWK se sonneblomoliepersaanleg, Epko, op sommige dae met so min as agt uur se krag.
"Produksie by Epko is sedert 2 Augustus gestaak. Deurlopende produksie is kritiek weens die aard van Epko se prosesse, aangesien enige vertraging skade aan die toerusting kan veroorsaak.
"Gereelde stop en aansit het verweer aan die toerusting vererger, wat gelei het tot ’n 70%-verhoging in instandhoudingskoste teenoor verlede jaar."
R5,5 miljoen gaan daagliks verlore weens produksie wat nie voortgaan nie.
"NWK het die afgelope boekjaar R46,7 miljoen aan alternatiewe metodes van kragopwekking by sy hoofkantoor en handelswinkel op Lichtenburg, asook sy silokomplekse in Delareyville, Ottosdal en Sannieshof bestee.
" ’n Verdere R21,3 miljoen is vir brandstof vir kragopwekkers opgedok."
Ditsobotla se skuld aan Eskom
Smalman sê Eskom weier om die kragtoevoer na Lichtenburg te herstel voordat die Ditsobotla-munisipaliteit nie minstens R123,5 miljoen betaal nie, omdat dié munisipaliteit Eskom sowat R1 miljard skuld.
Clover skuif weens swak dienslewering
Clover, Suid-Afrika se grootste suiwelmaatskappy en een van die voorste vervaardigers en bemarkers van voedselprodukte in die land, het in 2021 sy kaasfabriek na KwaZulu-Natal verskuif. Dié besluit is na bewering geneem op grond van swak dienslewering deur Ditsobotla.
Naudé Pienaar van Agri Noordwes het vroeër vanjaar aan OFM Nuus vertel dat die verskuiwing van die kaasfabriek ‘n slegte invloed op die suiwelprodusente, ekonomie van die dorp en selfs die skole gehad het.
Smalman waarsku ook dat indien die kragkrisis vir die volgende twee tot drie maande voortduur sal NWK Epko sy deure moet sluit.
"Hoewel afleggings nie oorweeg word nie, kan NWK die moontlikheid nie uitsluit nie. Dit is nog te vroeg om die invloed hiervan op NWK Bpk. se finansiële prestasie te bepaal.
"Epko dra egter beduidend by tot plaaslike ondernemings en bestee jaarliks tussen R1 miljard en R2 miljard op goedere en dienste, hoofsaaklik van plaaslike verskaffers.
"Dit beklemtoon die belangrikheid van 'n onderneming soos Epko op 'n plattelandse dorp soos Lichtenburg se ontwikkeling en vooruitgang."
Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit se woordvoerder, Pius Batsile, se opdatering oor die kragkwessie op 11 Augustus:
