Agriculture
Agri Securitas skenk byna R2 miljoen vir landelike veiligheid─── ELSABÉ RICHARD 14:30 Wed, 23 Aug 2023

Die Agri Securitas-trustfonds het byna R2 miljoen geskenk aan 29 landbou-organisasies en provinsiale affiliasies om veiligheidsprojekte op die platteland te help finansier.
Gemeenskappe het hul frustrasie uitgespreek oor wat hulle beskou as onvoldoende optrede deur die polisie om plaasaanvalle en landelike misdaad hok te slaan. Boere en plaaswerkers is veral kwesbaar vir misdaad, wat dikwels met geweld gepaardgaan.
Agri Securitas se Kobus Visser sê hierdie samewerkingspoging met plaaslike landbou-organisasies van regoor die land het ten doel om veiligheid in landelike gebiede te verbeter, om welvarende ekonomieë en volhoubare voedselstelsels in Suid-Afrika te ondersteun.
Die trustfonds reageer op die dringende kwessie van misdaadkwesbaarheid onder boere en plaaswerkers deur bykomende befondsing vir landelike veiligheidsinisiatiewe te verskaf, veral met die fokus op kamerastelselinstallasies.
Hierdie maatreëls verhoed nie net misdaad nie, maar help ook ondersoeke.
Plaasaanvalle en -moorde
Sentraal Suid-Afrika was die afgelope tyd die slagoffer van plaasaanvalle en -moorde wat byna naweek ná naweek plaasgevind het.
Die 67-jarige Mike Pattinson, hoof finansiële beampte van ’n privaat skool op Harrismith, is net een van die slagoffers. Hy is in Julie vermoor.
Vyf verdagtes het op 14 Augustus afstand gedoen van hul reg om vir borgtog aansoek te doen. Dit, terwyl die sesde verdagte nog in die hospitaal opgeneem is.
Die sewende verdagte in Pattinson se moordsaak het borgtog van R3 000 gekry, maar met streng voorwaardes omdat hy nie met Pattinson se ontvoering en moord verbind kan word nie.
BakkieArm-inisiatief
OFM het ook vroeër vanjaar die #BakkieArm-inisiatief van stapel gestuur om geld in te samel ter ondersteuning van Agri Securitas.
Dié projek was 'n reuse sukses met 'n insameling van R100 000. Die geld is tydens vanjaar se Nampo Oesdag aan die trustfonds oorgandig.
OFM doen 'n oorhandig van R100 000 aan Agri Securitas.
Agri SA se uitvoerende hoof, Christo van der Rheede het voorheen aan OFM Nuus gesê Agri Securitas is gestig ná die landelike veiligheidsberaad wat op 10 Oktober 1998 gehou is. Hy sê die organisasie spruit uit ’n gesprek tussen die gewese Agri SA-leier en President Nelson Mandela. Van der Rheede is ook een van die trustees.