On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Risikoverskansing vir koringprodusente in besproeiingsgebiede

───   ELSABÉ RICHARD 07:00 Tue, 05 Sep 2023

Risikoverskansing vir koringprodusente in besproeiingsgebiede | News Article
FOTO: YurKa/Pexels.

Besproeiingsboere moet in vandag se tyd groot uitgawes aangaan met die hoop dat hulle 'n suksesvolle koringoes sal hê.

Die insetkoste vir landboubedrywighede is hoog én natuurrisiko's is op hierdie stadium baie vir die produksie van koring.

Nicol Jansen, visiepresident van Agri SA en voormalige Agri Noord-Kaap-president, sê boere ervaar dikwels uitdagings met die opneem van veral natuurrisiko's. 

Hy verduidelik dat versekeringsmaatskappye al hoe meer begin aandui dat die premie-inkomsteverhouding aangaande eise uitbetaal, nie meer gunstig is ten opsigte van rypdekking vir die besproeiingsindustrie nie.

"Ryp wat op 'n laat stadium voorkom het die potensiaal om 'n totale oes te vernietig. 

"Ons sien in die afgelope 40 jaar dat dit tweekeer gebeur het, in die middel-1990's sowel as in 2019, wat 'n totale oesverlies voorgekom het en waar boere tot soveel as 100% skade gehad het met die laat ryp.

"Die versekeringsmaatskappye wat wel nog bereid is om teen ryp te verseker se koste vir jou premie loop rondom 12%, en dan het jy 'n 20%-bybetaling. Met ander woorde, as jy 21% skade het, sal hulle 1% uitbetaal.

"So, die 20% wat jy as boer dan moet dra, plus die min of meer 12% koste van die premie veroorsaak dat net 68% van 'n 100% verlies dan uitbetaalbaar is. Die groot uitdaging hiermee is dat dit nie die insetkoste van koring dek nie," sê Jansen verder.

Bespreek risiko's met jou makelaar

Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB, beklemtoon die belangrikheid vir boere om alle risiko’s te bespreek met makelaars. 

Hy sê wat meer belangriker is, is dat die boer ‘n makelaar kry wat sy risiko’s verstaan en dan vir hom die regte advies kan gee oor hoe om hulle te dek.

“Die [vraag oor hoe] duur is versekering is amper om te vra hoe lank is ‘n stukkie tou. Hoe groter die risiko verbonde aan die risiko wat gedek moet word, hoe meer is die tarief wat gevra word omrede daar ‘n groter waarskynlikheid is dat die risiko kan plaasvind.

“Versekeringspremies kan hoog raak as die bates alles 100% ten volle vir die hoogste [bedrae] gedek word, maar as daar van die risiko deur die boer gedra word en ander verplaas word na die versekeraar dan kan ‘n balans tussen premie en dekking gekry word wat elke boer se sak pas," deel Maree.

Landbou is onderworpe aan die natuur

Agri SA se hoof van beleid- en regsake, Janse Rabie, wat in November 2022 as lid van die Presidensiële Klimaatkommissie tydens die sewe-en-twintigste sitting van die Konferensie van die Partye (COP27) in Egipte aangestel is, het gesê die landbousektor is tot ‘n groot mate onderworpe aan die natuurlike omgewing. 

Ongekende weerpartone en droogtetoestande het die potensiaal om landbouers se vermoë om voedsel te kan produseer negatief beïnvloed, én kan aan hul sakke ruk.

“Daar is aansienlike werk aan die gang om die oorsake en gevolge van klimaatsverandering aan te spreek, insluitend die Wetsontwerp op Klimaatsverandering wat tans deur die parlement beweeg, en die landbousektor moet 'n integrale rol speel aangesien Suid-Afrika 'n samehangende en doeltreffende reaksie op die groeiende bedreiging formuleer,” het Rabie aan OFM Nuus gesê.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.