On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus: Noordwes-ekonomie ly byna R3 miljard se skade weens veldbrande

───   ELSABÉ RICHARD 15:00 Thu, 07 Sep 2023

Landbounuus: Noordwes-ekonomie ly byna R3 miljard se skade weens veldbrande | News Article
FOTO: Noordwes-sambreelbrandbeskermingsvereniging.

Die geraamde koste van die skade wat onlangse veldbrande aan Noordwes se ekonomie aangerig het, is byna R3 miljard.

Die Noordwes-sambreelbrandbeskermingsvereniging se Eric Stoch sê teen Sondag het meer as 340 000 hektaar veld weens brande verlore gegaan. Hy sê hierdie verwoestende brande het oor twee weke in Julie en vier weke in Augustus plaasgevind.

Die minister van elektrisiteit se besoek aan Lichtenburg het geen resultate opgelewer nie. Só sê die Lichtenburg Sakekamer se Chris Breedt nadat Kgosientsho Ramokgopa dié dorp besoek het ná ondernemings, soos NWK, miljoene per dag verloor het toe 'n Eskom transformator in Julie gevandaliseer is. Breedt sê inwoners en besighede gaan nie net gebuk onder kwessies met krag nie maar ook met water.

Diesel se prysstyging van byna R3 per liter, tesame met fase 6 beurtkrag en die afgelope weke se weghol-veldbrande, is nie net slegte nuus vir boere nie, maar ook vir verbruikers. Agri SA se visie-president, Nicol Jansen, sê met vandeesweek se styging in brandstofpryse kan inwoners verwag dat inflasiedruk weer sal toeneem en dat rentekoerse heel moontlik langer hoog sal bly.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging is bekommerd oor die impak wat voëlgriep-uitbrekings op produsente en die voorsieningsketting kan hê. Die vereniging se Dr Abongile Balarane het aan Farmer's Weekly gesê aanvanklike gevalle van die H5N1-stam het in April in die Wes-Kaap voorgekom. Hierdie stam is dieselfde as dié wat tans die meeste ander lande raak wêreldwyd. In Junie het 'n nuwe stam, geïdentifiseer as H7N6, egter uitgebreek in die Delmas-streek in Mpumalanga en het sedertdien deur Mpumalanga, Gauteng en die Vrystaat versprei.

EN

Die Namibiese lewendehawe- en vleisbedryf het herstel tydens die tweede kwartaal van 2023. Die Vleisraad van Namibië berig stewige slagaktiwiteite by A-klas abattoirs in die bees- en skaapsektore het tot verbeterings in totale bemarkings gelei. Tesame hiermee het die styging in produsentepryse ‘n steunpilaar vir die slagmark segment gebly. Suid-Afrikaanse speenkalwers het intussen relatiewe hoë pryse in dié buurland behaal.

OFM Nuus





@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.