Agriculture
Jongboer loop voort in pa se spore─── ELSABÉ DE JAGER 06:30 Sat, 09 Sep 2023

"Nie net die plaas en sy kantoor nie, selfs sy skoene is elke dag gepolitoer!"
“Ek wil die toekenning opdra aan my pa wat vir my die grondslag gelê het om ’n goeie boer te kan wees.”
So sê die saaiboer van Standerton, Nicky van der Linde (36), onlangs aangewys deur TLU SA as Jongboer van die Jaar 2023. Hy sal die deelnemers aan dié kompetisie altyd onthou as ’n groep dinamiese manne wat lus is vir die landbou. Hy boer al die afgelope 17 jaar op die plaas Cyrus van Geelbosboerdery.
Die beoordelaars was dit eens dat Van der Linde ’n passie vir boerdery het, dat hy ambisieus is en dat hy ’n groot verskil in die gemeenskap maak. Wannie Scribanté, adjunk-president van TLU SA, sê dié jong boer se projek om in eie graansilo’s te belê gaan vir hom en van sy medeboere tot groot voordeel wees. Die proses verg baie moed, geloof en fyn beplanning.
Naaswenner Nets Turvey en sy vrou Lizl. Foto verskaf
“Nie net die plaas en sy kantoor nie, maar selfs sy skoene is elke dag gepolitoer!” sê Clemens Senekal, voorsitter van TLU SA se Jongboerkomitee. Van der Linde se respek vir sy medemens het hom ook opgeval. Wynand Erasmus van Santam Landbou sê ’n mens kan die lekker van boer-wees op die jong man se gesig sien.
Afgesien van ’n kontantprys, nuwe produkte en die gebruik van ’n dubbelkajuit 4X4-bakkie die volgende jaar, het Van der Linde en sy vrou Adri ook ’n reis na die Manitou-fabriek in Frankryk ontvang.
Francois en Nerine Prinsloo van Stoffberg in die derde plek. Foto verskaf
Vir die naaswenner, Nets Turvey, van die Tuinplaas Boerevereniging in Limpopo, was die kompetisie ’n opbouende proses. Hy sê die mededinging het sy oë oopgemaak vir “dit wat nie altyd agtermekaar is in jou boerdery nie”.
Die derde plek is gevul deur Francois Prinsloo van Stoffberg in Belfast. Hy sê dit beteken vir hom baie dat die borge van hierdie kompetisie bereid is om te belê in die boere van TLU SA. Dit beteken dat daar vertroue in hulle gestel word.
OFM Nuus/Elsabé de Jager