Agriculture
Dieregesondheid top-prioriteit by NAMPO ALFA─── ELSABÉ RICHARD 11:30 Thu, 12 Oct 2023

“Toe die [bek-en-klouseer]-uitbraak daar was laasjaar, was daar eintlik ‘n baie groot uitdaging met die kommunikasie om die regte inligting by almal uit te kry."
Dieregesondheid is uiters belangrik vir die organiseerders van die NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag- en Buitelewe-ekspo.
Dr. Danie Odendaal van V-plan, sê biosekuriteitsprotokolle is in plek om te verseker dat geen siekte die NAMPO Park-perseel binnekom nie.
Bek-en-klouseer het veral die afgelope jare geleenthede soos NAMPO ALFA, NAMPO Oesdag en Bloemskou ‘n knou gegee. Baie telers het verkies om nie hul diere uit te staal nie uit vrees dat die siekte sy kop in hulle kuddes sal uitsteek.
Maar vanjaar is egter anders. Volgens Albert Loubser, organiseerder van die ekspo se lewendehawe-afdeling, is hulle dankbaar dat twee keer soveel uitstallers vanjaar deelneem as verlede jaar en sowat vier keer die hoeveelheid vee.
Bek-en-klouseer is intussen onder beheer gebring.
“Toe die [bek-en-klouseer]-uitbraak daar was laasjaar, was daar eintlik ‘n baie groot uitdaging met die kommunikasie om die regte inligting by almal uit te kry.
“Ons het probeer om meer direk met [boere] te gesels om die eenvoud van voorkoming uit te wys…
"Ons het baie ander siektes, maar bek-en-klouseer is ‘n virussiekte wat relatief vinnig ontwikkel. Die dier word siek dan kom hy weer reg, so dis baie spesifieke tekens. En ons moes daai inligting vir [boere] deurgee sodat die diere geobserveer kan word,” verduidelik Odendaal.
André Reitsma van Braunvieh SA staan trots agter twee van hul beeste by NAMPO ALFA.
Odendaal sê as veeartse was hulle in die verlede betrokke by groepe diere wat moes skuif na óf ‘n abattoir óf na die voerkrale om hulle te inspekteer.
Wat eintlik moes gebeur het, sê Odendaal, is dat die boer self die diere moes dophou oor ‘n periode van sowat drie weke of selfs ‘n maand om seker te wees dat die dier geen simptome van onder meer bek-en-klouseer toon nie.
“Die opstel van die protokolle vat nie lank nie. [Om dit] op te stel en by die boere te kry moet ons van die nuwe tegnologie gebruik maak waar ons seker maak almal het die protokol, en almal erken dat hulle die protokol volg.
“Ons doen dit nou deesdae met Google Forms wat vir jou ‘n baie duidelike verklaring kon gee van die eienaar… sodat jy dit vinnig kan saamvoeg en vinnig kan sien of almal daaraan voldoen.”
NAMPO ALFA duur tot Saterdag 14 Oktober by NAMPO Park net buite Bothaville voort. Luister gerus na die Agri-Uur en skakel in tydens die 11:00 en 13:30 landbou-bulletins om op hoogte te bly van wat op die terrein gebeur.