Agriculture
Landbounuus: Polisie gaan voort om veediefstal in Vrystaat hok te slaan─── ELSABÉ RICHARD 14:00 Thu, 02 Nov 2023
Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê party van die verdagtes is betrap met vee wat reeds geslag was.
Die Vrystaat se polisie werk hard om veediefstalsindikate aan die kaak te stel. Ses verdagtes is in een week in hegtenis geneem, terwyl een noodlottig gewond is. Vyf vermeende veediewe is in die Wes-Vrystaat aangekeer, en twee in die ooste van die provinsie. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê party van die verdagtes is betrap met geslagte vee.
Meer as 1,2 miljoen hektaar weiveld het in die slag gebly in Noordwes. Die meeste veldbrande is aangeteken tussen 1 Junie en 26 Oktober in die Bojanala-distrik naby Rustenburg. Dit sluit Brits en Koster in. Die Noordwes-sambreelbrandbeskermingsvereniging sê hy het geskryf aan die adjunk-direkteur-generaal van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing om die brandseisoen dringend te verleng met 87 dae. Hoewel brandspanne in Sentraal-Suid-Afrika hul bes doen om te help om brande te voorkom en te bestry, raak hulpbronne vinnig op.
Landbou se hoop op behoorlike beplanning en ’n herstrukturering van die bestaande sukkelende ekonomiese beleidsomgewing blyk vergeefs te wees. ‘n Landbou-organisasie meen gister se mediumtermynbegrotingsrede het weereens getoon wat die grootste probleme in Suid-Afrika is. Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê daar was slegs beperkte groei uit ‘n handjievol sektore vir die eerste ses maande van die jaar.
Die adjunkminister van water en sanitasie besoek Vrydag die Noord-Kaap. Judith Tshabalala gaan Water Toewysingshervormingsprogramme evalueer by Upington en Kakamas. Iketletso Lekalake, provinsiale departementshoof, sê Tshabalala sal veral konsentreer op die Karsten Boerdery Vrouetrust.
EN
Die eerste oes van 'n gesamentlike groenteprojek in Noordwes is suksesvol afgehandel. Blomkool en broccoli is aan die mark gelewer terwyl kool later geoes sal word. Dié sukses volg nadat AfriForum en Saai vir Thabake Business Enterprise bygestaan het om ’n driekwart hektaar groente op 'n hoewe van 21 hektaar in die Phokeng-omgewing onder songedrewe drupbesproeiing te plaas.
OFM Nuus/Elsabé Richard-May Daphné/Corné
