Agriculture
Produsente kyk na alternatiewe vir koringverbouing─── 09:11 Thu, 07 Dec 2023
Besproeiingsgebiede is druk besig om koring te oes.
Na verwagting gaan vanjaar se koringoes in Suid Afrika kleiner wees as verlede jaar en sal meer koring ingevoer moet word.
Nicol Jansen, Agri SA adjunkpresident, sê produsente moet nou alternatiewe vir koring onder besproeiing oorweeg.
“Meer lande word gebruik in oorlêstelsels en koringproduksie word vervang met vroeë mielieaanplantings. Proewe word ook gedoen vir die verbouing van kanola eerder as koring.”
Jansen verduidelik die Noord-Kaap en die Vrystaat was altyd die stabiliseerder aan die Suid-Afrikaanse koringproduksiekant. Die opbrengs het redelik stabiel gebly omdat die beskikbaarheid van water die saaigebied se afhanklikheid van reën oorkom het.
Weertoestande die afgelope aantal jare het egter die prentjie verander. Soveel so dat koring nie meer ‘n voorkeurgewas vir verbouing in hierdie gebiede is nie.
“Die oes in 2019 het erge rypskade opgedoen. Groot hoeveelhede koring is nie eens gestroop nie en is gebaal en aan die droogtegeteisterde gebiede verskaf as veevoer.”
Die hael van 2021 het ook groot skade aan die koringoes aangerig en in 2022 was daar ‘n ondergemiddelde opbrengs hoofsaaklik weens die teenwoordigheid van fusarium na die goeie reën daardie seisoen.
“Vanjaar het ongekende sneeu in die Oos-Vrystaat in November voorgekom. Daardie koue het sy merk gemaak op die koringopbrengs vir die besproeiingsbediede.”
Beurtkrag het ook ‘n invloed op besproeiingsgebiede gehad en gevolglik die opbrengsvermoë van koring. “So die risiko vir die verbouing van koring neem drasties toe, maar die versekerbare risiko’s neem af.”
Binne die huidige ekonomiese klimaat is dit ‘n groot beperking vir die verbouing van koring.
OFM Agri dg
