Agriculture
Ondanks uitdagings beleef John Deere ’n goeie 2023─── 08:00 Fri, 15 Dec 2023
“Die goeie landbou-omstandighede het daartoe bygedra dat John Deere goed gevaar het wat verkope en diens betref.”
John Deere Afrika het ondanks die talle uitdagings wat 2023 gebring het steeds ‘n goeie jaar beleef.
OFM se Inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Krüger, het met Hentie Breedt, bemarkings- en kommunikasiebestuurder, gepraat.
Hy meen 2023 was oor die algemeen ’n ryklik geseënde jaar vir landbou in Suid-Afrika, “Veral as ons kyk na steeds goeie reënval, die kommoditeitsprys wat redelik gunstig gebly het en selfs hier en daar het insetpryse ook afgekom”.
Ongelukkig was daar egter talle uitdagings – in sommige gevalle te veel reën en dan die baie infrastruktuurprobleme. “Al hierdie faktore het ’n uitdagende invloed op ons boere en ook op alle produk- en insetverskaffers.”
Die ongeveer 17%-verswakking van die rand-dollar-wisselkoers het ook ’n negatiewe invloed op invoerpryse gehad. “Hoewel ons van John Deere se kant af, asook die ander rolspelers in die mark, dit so goed as moontlik probeer bestuur het, vloei dit of 'n groot gedeelte daarvan ongelukkig deur na produsente.”
Breedt sê die goeie landbou-omstandighede het daartoe bygedra dat John Deere goed gevaar het wat verkope en diens betref. Die markaandeel in Suid-Afrika vir trekkers, stropers en selfaangedrewe spuite het gegroei. Daar is ’n aantal nuwe produkte en tegnologiese oplossings bekendgestel en die konstruksiebesigheid, wat so twee jaar gelede begin is, is meer gevestig en verder uitgebrei.
“Al hierdie goeie resultate word moontlik gemaak deur uitstekende diens wat ons handelaars en ons handelaarsnetwerk lewer, natuurlik ook die ondersteuning van ons klante se kant af. Ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om vir ons produsente sterkte toe te wens vir die res van die plantseisoen.”
