Agriculture
Omskep landbou se uitdagings in geleenthede─── 05:00 Wed, 20 Dec 2023

“Verlede jaar hierdie tyd in die Noord-Kaap was die oes besig om onder die son te verskroei weens beurtkrag.”
2023 het legio uitdagings vir die landbousektor opgelewer. Benewens geopolitieke onstabiliteit was daar plaaslik toenemende beurtkrag en logistieke probleme. Hierdie uitdagings kan egter ook in geleenthede omskep word.
OFM Inhoudsbestuurder Elzette Boucher-Krüger het met Neil de Klerk, VKB-groep se streeksdirekteur vir GWK en uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie, gepraat oor hoe die groep 2023 ervaar het.
De Klerk meen aan die einde van elke jaar staan mens voor ’n keuse oor hoe jy daardie jaar gaan beskou – gaan jy klem lê op al die moeilike uitdagings of gaan jy die positiewe daarin sien? Dat probleme ook in geleenthede omskep kan word.
“Verlede jaar hierdie tyd in die Noord-Kaap was die oes besig om onder die son te verskroei weens beurtkrag. Mense het dit egter reggekry om met oplossings te kom om ’n oes te lewer. As ’n maatskappy verkies ons ook om op daai manier na die wêreld te kyk.”
Hy verduidelik dat hulle nie blind is vir die uitdagings nie, maar dat produsente se deursettingsvermoë werklik ook vir VKB inspirasie bied.
Einde Mei het VKB en GWK aangekondig dat hulle gaan saamsmelt en De Klerk sê hierdie was nie net ’n groot gebeurtenis vir die maatskappye nie, maar ook vir landbou in Suid-Afrika. “Dis lekker om te kan sê dat ons goeie vordering maak met die integrasie. Daar is ook nog baie harde werk wat gedoen moet word om al die voordele te ontsluit. GWK en VKB het beide goeie resultate behaal en ons is baie dankbaar vir ons kliënte se ondersteuning en dis verseker iets waarop ons wil voortbou.
De Klerk sê 2024 bring hoop vir die toekoms omdat dit ’n verkiesingsjaar is wat weer geleenthede vir beter leierskap bring. “Landbou is ’n ongelooflike industrie en dis iets waarop ons in Suid-Afrika regtig trots kan wees. Ek dink ons is van die beste landbouers in die wêreld en is ’n voorbeeld vir die res.”
OFM Agri dg