On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Só lyk kort- en langtermynweervooruitsigte vir Sentraal-Suid-Afrika

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 15 Jan 2024

Só lyk kort- en langtermynweervooruitsigte vir Sentraal-Suid-Afrika | News Article
Foto: Getty Images

“Die reën is veroorsaak deur 'n afsnylaagdrukstelsel, wat op plekke selfs meer as 100 mm neerslag veroorsaak het.”

Die afgelope paar weke het Suid-Afrikaners ‘n mengelmoes van weerstoestande ervaar, met swaar reën oor dele van die Noord-Kaap en die Vrystaat, asook koel en warm temperature.

Johan van den Berg, 'n onafhanklike landbouweerkundige, sê hierdie reën is veroorsaak deur 'n afsnylaagdrukstelsel, wat op plekke selfs meer as 100 mm neerslag veroorsaak het.

Die voorspelling van hierdie reën was moeilik en onvoorspelbaar, sê hy.

Korttermynvoorspellings

Aanduidings dui daarop dat die Oos-Vrystaat minstens 20 mm tot 40 mm oor die volgende twee weke kan verwag. Na verwagting kan die sentrale en westelike dele van dié provinsie minstens 30 mm se reën verwag.

Van den Berg sê dit lyk asof die Noord-Kaap min reën kan verwag, met die uitsondering van Kimberley en die Hartswater-omgewing.

Langtermynvoorspellings

'n Afplatting in die weerverskynsels word in die komende weke verwag, wat dui op 'n moontlike verandering in toestande. Daar is ook 'n hoë risiko van droë en warm toestande, veral oor die sentrale tot westelike dele van die land, met die waarskuwing dat die kans vir stormagtige toestande toeneem.

Die landbougemeenskap word herinner aan die potensiële impak op graanproduksie, veral in gebiede waar reën skaars is. Die risiko van droogte kan toeneem, soos  in Noordwes.

‘Daar is positiewe tekens vir die komende landboujaar’

Van den Berg sê terwyl dit nog te vroeg is om met sekerheid te sê hoe die seisoen gaan ontvou, is daar tog positiewe tekens vir die komende landboujaar. Die hoop is dat Suid-Afrikaanse boere, en almal wat afhanklik is van die landboubedryf, 'n voorspoedige en suksesvolle oesjaar gaan hê.

Hy maan egter produsente dat hierdie vooruitsigte wel kan verander en dat dit noodsaaklik is om op die jongste inligting van die Suid-Afrikaanse Weerdiens te let.

OFM Agri dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.