Agriculture
Senekal-veiligheidsvereniging beveg misdaad uit die lug─── 05:00 Tue, 16 Jan 2024
Misdadigers in die distrik Senekal moet voortaan lig loop nadat ’n veiligheidsvereniging ’n hommeltuig aangeskaf het om hulle te help om misdaad te bekamp
Senekal se Veiligheidsvereniging (SVV) is gestig met die doel om die gemeenskap te beveilig deur hande te vat met die polisie en lede van die gemeenskap om misdaad te voorkom.
“Veediefstal is ’n groot probleem in die distrik, en hoewel die hommeltuig en ander tegnologie nie ’n oplossing vir die probleem is nie, is dit beslis ’n goeie afweerder,” vertel Daniël Kotze, voorsitter van SVV.
OFM Agri se Robyn Schutte het met Kotze gesels.
Die nuwe hommeltuig sal ’n waardevolle hulpmiddel wees om misdaad te bestry en reaksietyd te verbeter. Dit bied ’n oorsig vanuit die lug, wat die SVV in staat stel om vinnig en doeltreffend op enige verdagte aktiwiteit te reageer.
Met die implementering van hierdie nuwe hulpmiddel bevestig die Senekal-veiligheidsvereniging sy verbintenis tot die voortdurende stryd teen misdaad en hulle strewe na ’n veiliger gemeenskap vir almal.
Kotze beklemtoon die belangrikheid van ’n gemeenskap wat toegerus is met die nodige kennis en vaardighede om hul eie veiligheid te verseker. Die SVV is vasbeslote om ’n omgewing van samewerking en bewustheid te skep deur jong boere op te lei oor die beste praktyke vir misdaad- en noodreaksie.
“Die Senekal-veiligheidsvereniging kyk hoopvol na die toekoms waarin ’n samelewing van selfbewuste en toegewyde jong boere ’n aktiewe rol speel in die voorkoming van misdaad en die handhawing van orde in die gemeenskap”, sê Kotze.
