Agriculture
TLU SA lewer insette vir 2024-begroting─── 06:00 Tue, 23 Jan 2024
TLU SA het verlede week ’n skrywe aan die minister van finansies gerig om sake wat lewensbelangrik vir volhoubare voedselvoorsiening is onder sy aandag gebring.
OFM Agri se Robyn Schutte gesels met Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, wat die waarde van kos op die tafel as die belangrikste stabiliserende faktor in Suid-Afrika beklemtoon het.
“Gegewe dat ongeveer 68% van die land se inwoners in stede woon, kan die regering nie anders nie as om te besef dat kommersiële landbouers inderdaad Suid-Afrika se grootste bate is en dus gekoester moet word. Die hartseer is dat hulp deurentyd, onder die boeg van landbouhulp afgewentel word aan diegene wat ongeveer 3% van die land se voedsel produseer.”
Met begrotingstyd voor die deur het TLU SA ‘n paar sake aan die minister uitgelig:
- ’n Voorstel dat kommersiële boere in goeie jare winste belastingvry kan spaar om sodoende in tye van verliese steeds in produksie te kan bly.
- Suid-Afrika se infrastruktuur het só agteruit gegaan dat produksie- en verspreidingsprosesse nadelig beïnvloed word. Dit word al hoe moeiliker om produkte op die markte en by die hawens te kry. Paaie, spoorlyne, kommunikasiestelsels en kragvoorsiening moet dringend aandag kry.
- Veiligheid in Suid-Afrika, veral in landelike omgewings en op plase, is uiters kommerwekkend. Die SAPD moet met die nodige toerusting en opleiding bemagtig word om hul taak na behore te kan uitvoer en gesuiwer word van korrupte lede om die publiek se vertroue te herwin.
- Landbouers is blootgestel aan rampe soos vloede, droogtes, brande en veesiekte-uitbrekings. Daar behoort beter voorsiening gemaak te word om in sulke tye hulp vinnig en effektief aan landbouers te gee sodat hulle steeds kan produseer.
- Indien siektes soos bek-en-klouseer of voëlgriep uitbreek, moet die nodige bemagtiging in plek wees sodat die staat sy verantwoordelikheid effektief kan nakom.
- Effektiewe, gehalte opleiding is van kardinale belang en derhalwe moet onderwysstandaarde met rasse skrede verbeter.
“Suid-Afrika beleef uiters swak ekonomiese groei. Al hoe minder buitelandse beleggings word in ons land gemaak. Die elemente wat ekonomiese groei sal bewerkstellig, behoort die minister se kernfokus te wees en die belangrikste aspek wat die begroting moet aanspreek, is aansporingsmaatreëls wat groei sal aanmoedig,” sê Van Zyl.
