On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Wenkbroue lig oor Eskom se slimmeterplan – hoe gemaak met landbou?

───   05:00 Fri, 26 Jan 2024

Wenkbroue lig oor Eskom se slimmeterplan – hoe gemaak met landbou? | News Article
Foto: Getty Images

Kan Suid-Afrikaners hul lewens reël volgens Eskom se beskikbaarheid van krag, of geniet die werkplek se roetine en besigheid steeds voorkeur?

Landelike gebiede kry ook nou deur Eskom kennis dat hulle slimmeters wil kom installeer en die gebied tussen De Aar en Victoria-Wes in die Noord-Kaap moet blykbaar voor die einde Januarie afgehandel wees.

Nicol Jansen, die adjunkpresident van Agri SA, vertel dis deel van Eskom se sogenaamde R16-miljard ladingsbestuursoplossing vir beurtkrag waar die elektrisiteitsverskaffer gaan poog om binne vier jaar ’n slimmeter in elke huishouding te installeer.

Die idee is dat die slimmeter ’n uur voor die aanvang van beurtkrag klante deur die stelsel sal aanmoedig om hul verbruik tot 10 ampère te verminder, deur ’n boodskap na hul eenheid en selfoon te stuur. Daarna, indien die las nie verminder word nie, sal die meter outomaties die elektrisiteitstoevoer vir ’n tydperk afskakel.

Die departement van openbare ondernemings het, by monde van die minister Pravin Gordan, in ’n onlangse parlementêre vraag-en-antwoordsessie onthul dat 31 000 huise reeds toegerus is met slim elektrisiteitsmeters teen ’n koste van R96 miljoen.

“Dis nie eens een persentasiepunt van die verwagte begroting van R16 miljard nie. So, slim meters word uitgerol deur Eskom, dit word beplan vir elke huishouding, maar hoe gemaak op plase waar die Eskompunt nie net die woonhuis bedien nie?” vra Jansen.

Deur slimmeters te gebruik kan Eskom en munisipaliteite lasbestuur en vragverskuiwing doen wat druk op die netwerk gedurende spitstyd verminder. Hierdie plan het ten doel om beurtkrag op die korttermyn te beperk en ten minste 7 000 megawatt in die netwerk te herwin en sodoende beurtkrag tot ’n einde te bring.

“Baie word gesê en geskryf met ’n huishouding in gedagte, maar op ’n plaas soos nou deur Eskom kennis gegee is, is dit ’n duistere saak.”

Die bekommernis bestaan dat die Eskompunt nie net die plaaseienaar se huis van krag voorsien nie, maar ook die plaaswerksaamhede in geheel, wat spulpunte, pompkamers, pakstore, werkswinkels en arbeidershuise insluit.

Jansen lig ’n aantal knelpunte uit met die voorgestel plan:

  1. Die ligging van die slimmeter – Eskom het slegs jurisdiksie oor sy meterkas, nie na die res van die plaas se verspreidingsnetwerk nie. So as die koelkamer byvoorbeeld loop in die pakstoor, sal die slimmeter die toevoer afsny omdat dit die lading oorskry? Die plan sal dus nie in sy doel slaag om steeds te sorg dat ligte en wifi vir die plaaseienaar en arbeiders aan bly nie.
  2. Kommunikasienetwerke – Baie boere sukkel reeds om hul pompe, spilpunte en veiligheidsnetwerke te bestuur met modems vanweë gebrekkige kommunikasienetwerke. Dis dieselfde beginsel waarop slimmeters moet werk.
  3. Is Eskom se stelsel in plek om die massas data te hanteer en te verwerk? Dit kan soms jare neem om net opwekkers se alternatiewe energie, wat op die netwerk gekoppel is, aan aanvullende ladings se prysbalansering en rekeninge uitgesorteer te kry.
  4. Eskom se gehawende landelike netwerke lei tot groot hoeveelhede kragonderbrekings. Hoe sal hierdie gekompliseerde tegnologie hanteer word op hierdie netwerke?
  5. Daar is ook groot tekorte aan Eskom tegnici om kragvoorsieningfoute te herstel. Sal slimmeter-verwante foute gou herstel kan word?

“Om landsburgers se lewens só te reguleer… Kan Suid-Afrikaners, die 60% wat bevoorreg is om ’n werk te hê, hul lewens reël volgens Eskom se kragbeskikbaarheid, of geniet die werkplek se roetine en besigheid steeds voorkeur?”

Jansen sê landbou is baie bekommerd oor die onbedoelde gevolge van die uitrol van slimmeters in die sektor en sou baie eerder ’n R16-miljard belegging in die elektrisiteitsverspreidingsnetwerke wou sien.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.