Agriculture
Wynbedryf sluk swaar aan verhoogde aksyns─── ROBYN SCHUTTE 04:00 Mon, 26 Feb 2024
“Die tesourie het nie gehoor gegee aan die pleidooi om aksyns inflasionêr te hou nie.”
Die aksynsverhoging wat deur die nasionale tesourie ingestel is, sal baie wynondernemings ’n knou toedien en die Suid-Afrikaanse wynbedryf se ekonomiese herstel verder belemmer.
South Africa Wine sê In ’n verklaring die tesourie het nie gehoor gegee aan die pleidooi om aksyns inflasionêr te hou nie, “en ignoreer dus die belangrike rol van die wyn- en brandewynbedryf in die groter ekonomie.
‘Bedryf is onder druk om volhoubaar te bly’
Hy ignoreer ook die beduidende bydraes tot werkskepping in die hele waardeketting, veral in landelike gemeenskappe, asook die volgehoue druk vir hierdie bedryf om volhoubaar te bly.”
Enoch Gondwana, minister van finansies, het in sy begrotingsrede ’n aksynsverhoging van 7,17% op wyn, 7,17% op vonkelwyn en 6,67% op brandewyn aangekondig.
OFM Agri se Robyn Schutte het met Peter Pentz, kommunikasiebestuuder van De Groote Post kelder hieroor gepraat.
“Wat is die welstand van die wynbedryf? Dit hang af vir wie jy vra, maar ek glo dit gaan goed met ons. Te midde van uitdagings wat drukkend is, te midde van moeiliker omstandighede dink ek sien ons die positiewe kant daarvan. Die sondebelastingverhoging het ons nie verwag gaan so hoog wees nie, maar ek dink oor die algemeen gaan dit regtigwaar goed en daar is goeie groei,” sêPentz.
“Mense is vinnig op sosiale media om te sê maar sjoe, dit is net 80c. Maar jy moet holisties na dit gaan kyk, wat al daai 80 sente saam is. Dit is R60-miljoen.”

Die aksynsverhoging van 7,17% op wyn is in die begrotingsrede aangekondig, Foto: Pexels
Pentz haal SA Wine se uitvoerende hoof, Rico Basson, aan wat noem wat die wynbedryf alles met die geld kon doen:
- 1 236 mense kon vir nog ’n jaar indiens geneem word.
- Promosie vir uitvoer kon verdubbel word.
- Belegging in navorsing en tegnologie kon verdubbel word.
- 400 kleinboere kon elk ’n R150 000-toelaag ontvang het vir wynplaaspromosies.
“Ons as ’n bedryf is nie gekant teen sondebelasting nie. Ons is net teleurgestel dat dit nie in ooreenstemming met inflasie gebeur nie.”
OFM Agri dg
