On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Só word transformasie volhoubaar gedryf

───   05:00 Mon, 04 Mar 2024

Só word transformasie volhoubaar gedryf | News Article
Nick Serfontein en Patrick Sekwatlakwatla van die Sernick Groep. Foto: Serdev

Daar bestaan reeds georganiseerde strukture wat ontwerp is om landelike verval te pak. Die landbousakekamer Agbiz se hoofekonoom, Wandile Sihlobo, glo een daarvan is volhoubare grondhervorming.

Landbou en die burgerlike samelewing kan op konstruktiewe wyse by hierdie gevestigde strukture betrokke raak om positiewe verandering te bevorder. 

Sihlobo was een van die sprekers by Landbouweekblad en Senwes se Oplossings vir die Suid-Afrikaanse Platteland-kongres wat in Februarie op NAMPO Park buite Bothaville in die Vrystaat gehou is.

“Landbou kan ’n groot bydrae lewer om Suid-Afrika se groeivooruitsigte te verbeter. Die landbousektor het sedert 1994 meer as verdubbel in waarde. Daar is egter dinge in die land wat ons in die oë moet kyk, soos die landboubedryf wat dubbelsoortig is en die talle swart boere wat nie deel in die groei nie. Dit kan stabiliteit in die bedryf benadeel en is ook onaanvaarbaar vir die wetmakers.”

Sihlobo, wat ook lid is van pres. Cyril Ramaphosa se presidensiële advieskomitee oor grondhervorming en landbou, meen egter dis nie so eenvoudig soos om net by ’n wit boer te vat om vir ’n swart boer te gee nie.

“Ons moet eerder ’n manier vind om die koek te vergroot sodat almal aan die ekonomie kan deelneem. Dit is onakkuraat om te sê niks word gedoen omtrent grondhervorming nie, maar dit is terselfdertyd verkeerd om die vooruitgang te oordryf.”

Sihlobo verwys na die ANC se Heropbou- en Ontwikkelingsprogram wat sou poog om 30% van landbougrond in die eerste vyf jaar van die nuwe demokratiese regering te herverdeel. Die doelwit nou is om 30% teen 2030 te behaal.

Na raming is altesaam 13,2 miljoen ha (of 17%) reeds oorgedra van wit grondeienaars na die staat of swart eienaars deur middel van private transaksies of transaksies wat met staatshulp geskied het, insluitend grondhervorming.

“As ons dan die hektaar grond (2,339 miljoen ha) bytel wat suksesvol vir hervorming geïdentifiseer is, is ’n gesamentlike area van 15,56 miljoen ha se grondregte sedert 1994 herverdeel. Dis gelykstaande aan 20% grond wat voorheen in wit hande was en is dus baie nader aan die mikpunt van 30% as wat oor die algemeen geglo word.”

Sihlobo voel egter die regering kan meer doen. “Dit is nie die private sektor wat misluk nie, maar die staat, want baie van die grond wat deur die staat gekoop is, se eiendomsregte is nog nie ten volle oorgedra nie. Op van daardie plase gebeur niks.”



Daar is ook heelwat raakvatters wat reeds self skouer aan die wiel sit om te verseker dat Suid-Afrika se landbousektor wel vooruit boer. Hulle het ook van hul suksesstories op die Platteland-kongres gedeel.

“Volhoubare hervorming en transformasie bevoordeel ons almal. Private ondernemings kan help deur opkomende boere te lei en te mentor na kommersieel lewensvatbare landboupraktyke.” Só meen Patrick Sekwatlakwatla van die landbou-ontwikkelingsmaatskappy SerDev, ’n geaffilieerde van die Sernick-groep.

Dié organisasie help opkomende beesboere om kommersiële produsente te word deur aan hulle die nodige gereedskap, kennis en ondersteuning te verskaf.

Serdev erken dat suksesvolle grondhervorming meer behels as bloot die oorhandiging van ’n titelaktes, dit spreek ook die verskeie uitdagings aan wat opkomende boere in die gesig staar, insluitend: toegang tot kennis en opleiding, finansiële ondersteuning en marktoegang.



Lennox Plaatjies, die Nasionale Skakelbeampte vir SA PALS (Partners in Agri Land Solutions), sê hulle het sedert 2014 opkomende boere se vertroue en vaardighede gekweek wat gelei het tot verhoogde grondbesit vir voorheen benadeelde groepe.

“Die inisiatief help om vennootskappe tussen kommersiële boere, bedryfsleiers, finansiële instellings, agentskappe en gemeenskappe te vestig om volhoubare landbou en inklusiewe ekonomiese groei te bevorder. Ons werk deur 'n netwerk van eenstopwinkelsentrums, wat aan opkomende boere onskatbare ondersteuning bied – van opleiding van leierskapspanne tot die aanpak van sosio-ekonomiese struikelblokke.”

Plaatjies sê ware sukses het twee fundamentele beginsels nodig: onwrikbare toewyding en ’n bereidwilligheid om saam te werk. Die inisiatief het ’n bloudruk ontwikkel om welvaart in Suid-Afrika se landbousektor te transformeer en billik te herverdeel. Dit sluit die volgende beginsels in:

  • Rol jou moue op en hou ’n oop gemoed.
  • Maak geen onderskeid tussen “meester en mens” nie.
  • ’n Gedeelde reis het ’n gedeelde padkaart nodig om almal op koers te hou.

“As jy een pilaar afskeep, is die vennootskap onstabiel. Hierdie vennootskappe floreer eers wanneer alle pilare van volhoubare boerdery aangespreek word. Ons prioritiseer toegang tot grond, vaardigheidsontwikkeling, kapitaal en befondsing, marktoegang, effektiewe geskilbeslegting, duidelike uittredestrategieë en ’n ondersteunende omgewing.”
 

Judy Stuart, stigter van Future Farmers meen as elke boer een of twee jong mense kan inneem of ’n Future Farmers-program borg, dan kan die toekoms van die landbou in Suid-Afrika verander word.

Stuart het in 2006 begin om skoolverlaters in boerdery te plaas nadat sy besef het dat hul passie vir landbou, wat op die skoolbanke gekweek is, gaan doodloop omdat hulle nie dit verder kan studeer nie. Sedertdien het honderde toekomstige boere plaaslik vakleerlingskappe voltooi, en selfs ook vir ’n tyd oorsee gaan werk.

Dié vakleerlingskappe lewer nie net plaasbestuurders op en help die jong mense om goeie werk te kry nie, maar gee ook transformasie in die landbou ’n hupstoot.


Saamgestel deur OFM Agri. cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.