On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Agriculture

AL3-Boerdery steek nie draak met eksotiese vrugte nie

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 13 Mar 2024

AL3-Boerdery steek nie draak met eksotiese vrugte nie | News Article
Dié subtropiese draakvrug is baie gewild onder plaaslike verbruikers. Foto: Facebook/AL3-boerdery

“Die besluit om hierdie vrugte te begin plant, het voortgespruit uit die verlange om die boerdery te diversifiseer en alternatiewe kommoditeite te verken.”

Die draakvrugbedryf beklee ’n beskeie plek onder subtropiese vrugte in Suid-Afrika maar ’n Limpopo-boerdery se toewyding is suksesvol.

Dié subtropiese vrug kom van Mexiko en Suid-Amerika. Dit lyk soos iets uit ’n sprokie en is ’n  wegholverkoper onder plaaslike verbruikers en op internasionale markte.

“Die besluit om hierdie vrugte te begin plant, het voortgespruit uit die verlange om die boerdery te diversifiseer en alternatiewe kommoditeite te verken,” sê CT van der Merwe, hoof-uitvoerende bestuurder van die AL3-boerdery naby Mogwadi in Limpopo.

“Ons is oorspronklik groenteboere, en het ’n strategie van uitvoerdiversifikasie gevolg om bietjie die rand te verskans,”sê hy.

Aangesien die plaaslike vraag na draakvrugte vinnig toeneem, fokus hulle hoofsaaklik op binnelandse verbruikers. Net 2% van hul produkte word in die buiteland bemark, deels weens logisitieke uitdagings met lugvragkoste en hawens.

Die draakvrug-aanplantings van die AL3-boerdery in Limpopo Foto: Facebook/AL3-boerdery 

Van der Merwe sê hulle het ook begin om ander eksotiese vrugte, soos granate, op ’n  beperkte skaal te kweek. Hy benadruk dat die draakvrug ’n gunstige plek in die mark het, ondanks sy relatiewe nuutheid in vergelyking met ander tropiese vrugte.

Die draakvrugte wat die AL3-boerdery aan plaaslike en internasionale markte lewer. Foto: Facebook/AL3-boerdery

Van der Merwe is ook ’n groot aanhanger van die vrug, en vertel van die lafenis wat dit bied wanneer hy in die lande werk. “Dis veel beter as om ’n aartappel of botterskorsie te moet probeer kou,” skerts hy. En, hoe gemaak as jy by die huis is? Hy sê die vrug moet middeldeur gesny word en die skil dien as ‘n bakkie waaruit jy dit kan eet.

OFM/Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.