On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Hoe boer ons vir die toekoms?

───   ROBYN SCHUTTE 08:00 Tue, 26 Mar 2024

Hoe boer ons vir die toekoms? | News Article
Die TLU SA Jongboerkonferensie het ’n geleentheid gebied vir jong produsente om saam te kom, kennis te deel en strategieë te bespreek vir die toekoms van die landboubedryf. Foto: Facebook/TLU SA Jongboere

Die TLU SA Jongboerkonferensie het ’n geleentheid gebied vir jong produsente om saam te kom, kennis te deel en strategieë te bespreek vir die toekoms van die landboubedryf.

Hoop, realisme en vasbyt – dís wat gehoor word wanneer die toekoms van Suid-Afrika se landbou bymekaarkom om idees uit te ruil en mekaar moed in te praat.

“Ek het ’n vreeslike opgewondenheid binne-in my as ek kyk wat gebeur by so ’n Jongboerkonferensie. Daar is hoop vir Suid-Afrika, want daar is hoop vir landbou,” só sê TLU SA hoofbestuurder, Bennie van Zyl, ná afloop van die organisasie se onlangse kongres.

Die TLU SA Jongboerkonferensie het ’n geleentheid gebied vir jong produsente om saam te kom, kennis te deel en strategieë te bespreek vir die toekoms van die landboubedryf.

Van Zyl vertel die konferensie het ’n blik gegee op die jongste verwikkelinge in die bedryf en het ’n verskeidenheid onderwerpe geraak, insluitend die gebruik van kunsmatige intelligensie in landbou, die implementering van nuwe tegnologieë vir kuddebestuur, en die bevordering van volhoubare landboupraktyke. Sprekers van verskeie velde het hul insette gelewer oor hoe jong boere kan bydra tot die groei en volhoubaarheid van die landboubedryf.

Die jaarlikse Jongboerkompetisie, wat tydens die konferensie aangekondig is, bied ook ’n geleentheid vir produsente om hul suksesse te vier en om erkenning te kry vir hul harde werk en toewyding.

Inskrywings is nog oop tot einde Junie, waarna plaasbesoeke in Julie plaasvind. Die wenner, naaswenner en derde plek sal later vanjaar tydens die jaarlikse TLU SA Kongres bekend gemaak word.

“Daar word baie spesifiek gefokus op wat het hierdie jong boer hierdie afgelope jaar gedoen om die boerdery beter te maak, met ander woorde, ons kyk nie noodwendig na wat hy het nie, maar wat hy gedoen het,” verduidelik Van Zyl.  

Die deelnemers word ook beoordeel in sowat elf verskillende afdelings wat insluit risiko-, arbeid-, en produksiebestuur, asook instandhouding van infrastruktuur, sy gemeenskapslewe, en deelname en betrokkenheid in georganiseerde landbou.

OFM/Agri

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.